Sharne Basson (5).

Foto: Verskaf

Jan Heyns

Jan Heyns (37)

Die 37-jarige verdagte wat Maandag (21/11) omstreeks 20:00 in hegtenis geneem is vir sy moontlike betrokkenheid by die verdwyning en dood van die vyfjarige Sharne Basson van Alheit by Kakamas, het Woensdagoggend in die Kakamas-landdroshof verskyn.

Jan Heyns van Alheit word van verkragting en moord aangekla.

Kapt. Nelis Prins, kommunikasie-offisier van die polisie in Kakamas, sê die saak word tot 30 November vir verdere ondersoek uitgestel. Die verdagte bly in aanhouding.

Heyns is Maandag, bykans drie weke ná Sharne se verdwyning, by sy huis in hegtenis geneem. 

Dit kom nadat die lyk van ’n kind Maandag omstreeks 08:00 in die veld naby Alheit deur ’n verbyganger gevind is.

Prins het Dinsdag bevestig dat die lykie dié van Sharne is. Hy sê ’n nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van haar dood vas te stel.

Sharne is op 5 November as vermis aangemeld, en Prins sê die voorlopige ondersoek dui daarop dat sy reeds die middag van 4 November vermoor is.

Sy het glo dié middag saam met twee maats na ’n kafee sowat 200 m van haar ouerhuis gestap.

Ná haar verdwyning is die woonbuurt en veld gefynkam.

Die verdagte is Maandag deur speurders van Kakamas in hegtenis geneem. Hy is glo ’n bekende vir Sharne en haar familie.

Prins beklemtoon dat ouers ten alle tye moet weet waar hul kinders hulle bevind, en indien hulle byvoorbeeld ná skoolure nie na die kinders kan kyk nie, moet hulle in die sorg van ’n volwassene gelaat word.

  • Met die warm somerweer op hande herinner Prins ouers ook daaraan om toe te sien dat hul kinders weg van die rivier en van kanale bly.
  • Verdere veiligheids­maatreëls wat nie genoegsaam beklemtoon kan word nie, sê hy, is dat kinders geleer moet word om nie saam met iemand te stap aan wie se sorg hy of sy nie toevertrou is nie; om nie lekkergoed of geskenke van vreemdelinge te aanvaar nie; en om nie saam met enigeen in ’n voertuig te klim nie – tensy die ouers dit vooraf met die kind en die betrokke persoon gereël en so bevestig het.
  • Prins beklemtoon ook weer dat daar nie ’n wagtydperk is om iemand as vermis aan te meld nie, en dat die spoedige aanmelding van ’n vermiste persoon daartoe kan bydra om die persoon dalk ongedeerde te vind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article