’n Vakadviseur verbonde aan die Noord-Kaapse departement van onderwys, Jeremy Claassen, het ’n nasionale eerbewys as die beste Woorde open Wêrelde (WOW)-onderwyser van die jaar ontvang.
Hy het dié gesogte eerbewys op 10 November tydens die Toyota Universiteit van Stellenbosch Woordfees in die Eikestad ontvang.
Claassen, werksaam in die Z.F. Mgcawu-distrik in Upington, het die eerbewys vir sy betrokkenheid by die WOW-spelkompetisies ontvang, waarby hy reeds tien jaar betrokke is.
Voor sy amp as vakadviseur was hy vir dekades in die onderwys en het hoofsaaklik Engels as skoolvak aangebied.
Hy is van mening dat die samelewing op die verstaan, praat en skryf van taal berus.
Volgens hom het sosialemediaplatforms en selfone tot swakker taalgebruik en spelling bygedra, en het hy besluit om betrokke te raak.
Die Covid-19-pandemie het die aanbied van die kompetisies onderbreek, maar van 2023 af gaan dit weer voluit in die Noord-Kaap vir leerlinge van gr. 1 tot gr. 10 aangebied word – in Afrikaans, Engels en Xhosa.





