Ná die reëns trek die lug so mooi helder oop en die sonnetjie kom deur en skyn op die skoongewaste wêreld.
Alles is so nuut en vars.
Dit is asof die voëltjies net ekstra baie en vrolik tjirp, en die hoenders skrop die gras en gruis van links na regs en pik-pik orals rond.
Ná so ’n lekker reënbui is die lug mos ekstra blou en die son ekstra skerp.
Op die plaas het Oupa altyd gesê hy hoor sommer die gras groei.
Die voorreg van lewe en die beloftes van groei en mooi en skoon en alles reg word sigbaar rondom ’n mens.
Dit is juis vanoggend, op so ’n oggend, dat ek dink aan die wonderlike voorreg van lewe.
Daar is soveel dinge wat ons vreugde van ons wil steel – mense en omstandighede, negatiwiteit en besluiteloosheid, konteks en vrees, uitdagings en opdraandes.
Elkeen van ons beleef dit sekerlik verskillend.
En ja, ’n mens is op verskillende lewenspaaie, so die uitdagings het vir seker verskillende vlakke en almal word nie ewe veel geraak deur alles nie.
Maar die voorreg van lewe raak ons almal wel. Op dieselfde manier. Jy kan dit raaksien, waardeer, indrink en ervaar.
Of jy kan toelaat dat al hierdie vreugde by jou verbygaan omdat jy so gefokus is op dit wat die vreugde steel.
Natuurlik is daar altyd omstandighede bo ons vermoë, dinge wat te groot is vir ons, te veel is vir ons begrip.
Maar daar is ook vrede en rustigheid en die voorreg van lewe.
Lewe, terwyl jy lewe.


