David “Dappie” van Vuuren het ná 47 jaar as ’n verkeersbeampte by die Sol Plaatje-munisipaliteit afgetree.

Foto’s: Verskaf Credit: SYSTEM

David van Vuuren in 1978.

Van Vuuren se 1964-Ford Cortina waarin hy graag die lang pad wil vat.

Kimberley was ’n “wilde plek” toe David van Vuuren (65) in 1975 as bloedjong verkeersbeampte die paaie moes patrolleer.

Nou, amper ’n halfeeu later, het Dappie, soos hy alombekend is, die tuig by die Sol Plaatje-munisipaliteit neergelê.

Van Vuuren is in die Diamantstad gebore en getoë.

“Ek is ’n seun van die rooi grond,” sê hy trots.

Mense het hom destyds oral geken en gegroet wanneer hy fier en regop op sy motorfiets – eers ’n BMW, toe ’n Honda en later ’n Suzuki – die strate patrolleer. Later was hy in ’n patrolliemotor.

Boetes het hy by die dosyne geskryf. Hy wens hy weet wat die werklike aantal is.

Hy het meestal die toetse vir leerling- en bestuurderslisensies gedoen, maar toe hy in 1991 tot assistent-superintendent bevorder is, het hy met sy rekenaar­ondervinding meer kantoor- as padwerk verrig.

Kimberley se motoriste het hom gerespekteer en geken aan die snor met stywe punte na bo – want, sê Van Vuuren, “ ’n spietkop móét sommer kwaai lyk.”

En hy wás kwaai.

Hy vertel van so ’n kwaai uitkyk die oggend toe hy ’n vrou in haar Mini van die pad trek – oor sy oor ’n stopteken gery het. Hy gaan staan soos in die Leon Schuster-fliek by haar venster, maar sy wil hom nie in die gesig kyk nie.

Hy dog “hoe nou”, tot sy skamerig opmerk: “Meneer, jou gulp is oop . . .” Hy het só skaam gekry, hy het haar laat gaan met slegs ’n waarskuwing.

Ja, hy was self al aan die ontvangkant van ’n verkeersboete, bieg hy. Maar net een keer.

Hy en sy vrou, Heleen, het op ’n Paassondag by sy skoonouers in Hotazel gaan kuier.

“Ek is ’n voorbeeldige bestuurder, maar toe ek Daniëlskuil binne ry en af-slack, toe trap ek die toue. R70 se boete.”

Hy onthou ook ’n verleentheid toe hy en kollegas op ’n “voorstaandiens” (padblokkade) met botteltjies traangas gespeel en dit per ongeluk geaktiveer het. ’n Motorfiets het toe op die einste oomblik deur die gaswolk gery en die bestuurder het amper beheer verloor.

Wat die verkeersmanne nie geweet het nie, was dat dit die stadsklerk, Coenie Nolte, op die motorfiets was. Dit het hulle terdeë besef toe hulle daardie Maandag ingeroep is – om voor stok gekry te word deur die einste Nolte!

Daar was ook moeilike tye.

Hy was by toe ’n kollega, Pierre de Villiers, onder die wiele van ’n bus wat ’n U-draai wou maak, beland het. De Villiers was pas getroud en het ’n baba van ses maande gehad.

Dan was daar die dag toe ’n kollega hom tydens ’n inhegtenisneming van ’n dronkbestuurder wat pas op parool vrygelaat is, gered het. Dié ou wou Van Vuuren met ’n mes in die rug steek, maar sy kollega Scholtz het betyds die man vasgegryp.

Maar, sê Van Vuuren, hy “was die ghoen op dronkbestuur”. Maandeliks het hy tot 34 arrestasies gedoen, maar vandag kan ’n verkeersbeampte nie eens vyf in ’n maand doen nie.

“Die howe is te sag, want die beskuldigdes gaan hof toe en boetes word verminder. Die hof sê dis hul prerogatief.

“Verkeersbeamptes raak moedeloos – oor hulle so hard werk om dronkbestuurders van die pad te hou – en daarom vat van hulle dalk die bribes.”

Só streng was hy met dronkbestuurders dat hy dit nie durf waag het in ’n kroeg nie, want almal het sy bloed gesoek.

“Vandag is Kimberley se paaie steeds nou en vol kronkels, maar die verkeer is baie meer.

“Verkeersbeamptes se lewe is ook meer in gevaar. Motoriste respekteer net nie die padreëls nie en hulle hang politiek agter elke stopstraat, so jy moet maar sorg dat jy twee-twee patrolleer, want só gou word jy doodgemaak vir niks.”

Verkeerswerk was vir hom ’n roeping.

“Ek weet nie van enige ander verkeersbeampte in die land wat my dienstydperk by een werk kan verbeter nie,” sê hy.

Op sy laaste werkdag einde Oktober het sy kleinseuns, Armand (9) en Alexander (4) Steenberg, hom verras toe hulle in verkeersuniforms by sy werkplek opgedaag het.

Sy aftrede gaan hy saam met Heleen, ’n afgetrede verpleegkundige, geniet. Hy wil sy versamelings modelkarretjies, horlosies en Vrymesselaarsmedaljes uitbrei en die lang pad vat in sy 1964-Ford Cortina.

Julian Jansen, Rapport

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article