Die onlangse memorandum van verstandhouding wat tussen die Noord- en Wes-Kaapse regering onderteken is, het samewerking ten doel om ’n spilpunt en deurgang vir die produksie van groenwaterstof te ontwikkel.
Groenwaterstof (“green hydrogen”) verwys na waterstof wat met hernubare of laekoolstofkragbronne vervaardig word as deel van pogings om klimaatverandering teen te werk of te versag.
Dit kan aan bestaande pypleidings vir aardgas gekoppel word en onder meer gebruik word om groenammoniak, wat vir kunsmis gebruik word, te vervaardig.
Tydens die ondertekening het Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, benadruk dat groenwaterstof ’n belangrike rol in die oorgang na ’n nulkoolstofkragstelsel gaan speel.
Vroeër het Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, gesê groenwaterstof is ’n nuwe tegnologie wat moontlik in die toekoms gebruik kan word om selfs skepe en vliegtuie aan te dryf.
Creecy het gesê die departement werk saam met Eskom om transmissielyne te bou om krag van die Noord-Kaap na die res van die land te bring.
Pres. Cyril Ramaphosa het op die geleentheid gesê die Noord-Kaap trek groot beleggings in hernubare energie, sonkrag en groenwaterstof.




