Almé Swart, ’n 28-jarige illustreerder en boorling van Kimberley, het pas in die afdeling vir jong skrywers (jonger as 30) in RSG se radiodrama-skryfkompetisie gewen.
Swart, wat in Bloemfontein woon nadat sy aan die Afda-rolprentskool in Kaapstad studeer het, sê sy skryf al haar hele lewe lank.
By die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, waar sy in 2011 gematrikuleer het, was Afrikaans haar gunsteling-vak vanweë die opstelle wat sy moes skryf.
Sy het ook twee digkompetisies daar gewen.
Mot, haar debuutradiodrama, gaan oor ’n jong meisie genaamd Mot, oftewel Mathilda, wat uit slegte omstandighede kom. Sy vind ’n ou sleutel onder ’n perskeboom in haar ouma se tuin. Dié sleutel sluit allerhande wonderlike deure vir haar oop.
Benewens die prysgeld van R15 000 wat Swart ontvang het, beoog RSG om haar radiodrama in April volgende jaar uit te saai nadat dié radiostasie die regie en vervaardiging behartig het.
“Ek wou nog altyd vir die kompetisie inskryf, maar ek het nooit gevoel ek is reg nie,” sê Swart.
Een van haar vriende het toe daarin geslaag om haar te oorreed om wel in te skryf.
Die prysgeld kom net op die regte tyd, sê sy, want sy verhuis binnekort na Upington vir werk.
Nes haar ouers, Hennie en Amanda, destyds, werk Swart vir die Suid-Afrikaanse San-instituut (Sasi) en fokus op die regte van die inheemse San-mense.
Sy gaan die Kalahari-woestynfees volgende jaar behartig en het finansiering van die Nasionale Rolprent-en-video-stigting ontvang om ’n dokumentêr daaroor te maak.
Ná haar studie in die Kaap het Swart na Bloemfontein teruggekom om haar honneursgraad in rolprent- en visuelemediastudies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te voltooi.
Sy dink dit is haar kleurryke kinderlewe wat hierdie liefde vir mooi stories ontketen het. Sy het tussen die San grootgeword omdat haar ouers vir San-kinders skoolgehou het.
Haar ma is ’n onderwyseres aan die Hout Bay High School. Haar pa is in 2019 oorlede.




