Kersfees, die tyd van geskenke, breek binnekort aan.

Geskenke se waarde verskil, maar ongeag die waarde daarvan is dít die minste wat ek en jy kan doen: om die geskenk en die gesindheid daaragter te waardeer.

Kersfees herinner ons aan die grootste geskenk wat ons tot nog toe ontvang het – toegedraai in doeke en in ’n krip neergelê.

Word hierdie geskenk nog waardeer, of het dit weggeraak tussen die lekker eet, die mooi versierings en die geritsel van geskenkpapier?

Jesus is een maal vir ons gegee, as ’n blywende geskenk. Hy het blywende waarde.

Jesus is God se liefdesgeskenk aan jou en my om ons lewe vir altyd te verander. Hy bring ons verlossing en hoop, terwyl hoop ’n onverkrygbare artikel geword het.

Watter plek neem Hy vandag in ons Kersfeesvieringe in? Is daar hoegenaamd vir Hom ’n plek aan ons Kerstafel gedek?

Deel ons Hom nog as die grootste geskenk met mekaar en die wêreld, of het Hy maar net die handige “kapstok” geword waaraan ons ons feesvieringe kan ophang?

Ons Vader se liefdesgeskenk aan jou en my waarborg ons die ewige lewe (Joh. 3:16).

Die minste wat ek en jy kan doen, is om dankie te sê deur ons hele lewe, elke stukkie daarvan, aan Hom te gee, as ’n lewende offer (Rom. 12:1).

Mag Hy die eregas aan ons Kerstafel wees – en ook elke dag die eregas aan ons lewenstafel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article