Met net meer as twee weke van 2022 oor voordat die horlosiewysers na die eerste oomblik van 2023 oortik, het ’n mens reeds besluit hoe jy oor dié jaar voel.
(Terloops, dit is in Kiritimati, die hoofstad van die Kiribati-eiland in die Stille Oseaan, waar die sekondewyser dag ná dag eerste die nuwe dag intik, of jaar ná jaar eerste die nuwe jaar.)
Die nuushoogtepunt vir Suid-Afrikaners was vanjaar sekerlik die opheffing van die nasionale noodtoestand weens die Covid-19-pandemie, vanaf 5 April.
Dan was daar die brand in die Parlement in Kaapstad; vloede in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal; die Jagersfontein slikdam-ramp; die Phala Phala-rusbankramp; nog misdaad, nog moorde.
Op die wêreldfront was die Russiese inval in die Oekraïne hoofnuus. Dan was daar die uitbreek van aappokke in Mei (nou met ’n nuwe naam – mpox) wat mense angsbevange vir nog ’n inperking gemaak het; verkiesings het plaasgevind; nog oorloë sleep steeds voort; en ongekende hittegolwe in Julie en Augustus in Europa het tot meer as 53 000 sterftes gelei.
Liz Truss was kortstondig die Britse eerste minister; koningin Elizabeth II, die wêreld se langsheersende monarg (70 jaar en 214 dae), is oorlede. Dan was daar die spoggerige aankopie van Twitter deur Elon Musk vir $44 biljoen.
Vir baie mense was dit vanjaar permanent terug werk toe.
Dit was ook ’n jaar van beurtkrag waarin ’n mens veel meer ongewenste beurte gekry het as wat jy wou hanteer.
Of ’n mens Nostradamus se meer donker voorspellings vir 2023 aanhang; of webwerwe soos quantumrun.com wat op tegnologiese ontwikkelinge fokus: “It ain’t over till the fat lady sings.” Dié jaar is nog nie verby nie.
Dit is nog nie te laat om te besluit om Kersfees nié ’n ekstra skuldlas te maak nie; of om vandag nog daardie één voorneme wat jy reeds op 1 Januarie 2022 gemaak het – en wat steeds net ’n voorneme is – ’n werklikheid te maak nie.


