Die Slag van Magersfontein, wat 123 jaar gelede plaasgevind het, is die afgelope naweek tydens ’n byeenkoms herdenk wat as “magies, betekenisvol en waarin ’n teenwoordigheid aangevoel is”, beskryf is.
Plaaslike boere-gesinne en ander belangstellendes het dié herdenking Saterdag (10/12) bygewoon.
Die Slag het op 11 Desember 1899 tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) plaasgevind. Hiertydens het die Boere ’n beslissende oorwinning behaal wat in Brittanje bekend gestaan het as die Swart Week. Skotland se trotse Highland Brigade is ’n groot slag toegedien. Die Britte wou die beleërde Kimberley ontset, maar die Boere-magte het hulle tydelik in hul spore by Magersfontein gestuit.
Riana van der Merwe het die byeenkoms getiteld Magersfontein Memorial Magic gereël in samewerking met Greg Edwards, wie se plaas deel vorm van die slagveld en wat langs die Magersfontein-museum se terrein is. Van die loopgrawe van 16 km tussen Magersfontein en Spytfontein buite Kimberley strek ook oor sy plaas.
“Ons het vir Steve Lunderstedt, geskiedskrywer en ABO-kenner, genooi om ons toe te spreek. Llewellyn Burger het die doedelsak bespeel, wat tot die magiese atmosfeer bygedra het,” sê Van der Merwe.
Hoewel dit ’n uitdaging vir die teenwoordiges was om soos Boere of Britte aan te trek, het almal meesal kakieklere gedra. Hier en daar het iemand kruisbande aangehad.
“ ’n Boer wat van Skotse afkoms is, het ’n Britse vlag gebring en ek het vlae van die Zuid-Afrikaanse Republiek en die Oranje Vrystaat Republiek geleen,” sê Van der Merwe.
Gelukkig het die reënbuie wat voorspel is, nie uitgesak toe hulle om 17:00 saamgetrek het nie.
“Teen skemer het ons foto’s geneem en op die koppe geklim. Steve het twee putte ontdek waar die Boere Krupp-kanonne geplaas het, asook plekke waar klippe in die rondte gepak is en hulle waarskynlik kos gemaak het.
“Die aand was spesiaal omdat ons dit twee jaar laas gedoen het. Dit het aanvanklik begin as mans wat in die loopgrawe gebraai en soms geslaap het, later hul seuns en toe die vroue saamgenooi het. Dit is spesiaal dat ons op ’n historiese plek bly, en om te onthou wat hier gebeur het, ’n oorlog waarin ons voorouers betrokke was. Dit was goed dat ons kinders, tieners en jong volwassenes saam was. Hulle moet die geskiedenis oordra.
“Omdat ons almal van gemengde afkoms is, het ons mekaar lekker gespot en stories vertel. Almal het iets geleer wat hulle nie voorheen geweet het nie. Dit was interessant dat van die Bloemfonteinse kommandolede eintlik winkeliers was en nie streng gesproke boere nie.”
Die aand is met ’n vleisbraai onder die sterre afgesluit. Volgende jaar maak hulle weer so, dié keer met meer inligting oor watter van hul voorsate hier of dalk elders geveg het.





