Met die koms van digitale bergruimte op selfone, rekenaars en allerlei wolkies wat geen druppel water het nie, het ’n mens jou in die gedagte verheug dat kosbare foto’s “vir altyd” gebêre word en “nooit weer” verlore sal gaan nie.
Ná nog ’n boodskap in die trant van: “Ek het al my WhatsApps en WhatsApp-foto’s verloor en ek het geen backups nie,” het die byna vergete beeld van ’n verslete, bruin kartonskooltassie gevul met vergeelde foto’s en voosgeleesde briewe weer te voorskyn gekom.
Dié skooltassie se knip sou waarskynlik nie meer gladweg oop- en toemaak nie. In sommige gevalle sou dit selfs nie eens meer ’n handvatsel hê nie.
Die binnekant van die deksel sou waarskynlik ’n skeefgeskryfde naam en van, met “Graad 1” of “Sub A” onder dit gehad het.
Die res van die deksel sou gomkolle gehad het waar talle prentjies geplak en weer afgetrek is – ’n aanduiding dat die tasdraer deur fases van voorkeure gegroei het.
Hoewel die tassie dalk hier en daar ingeduik sou wees, en die blinkbruin van die buitekant nerf-af, sou dit ’n knus ruimte vir foto’s en briewe wees.
Uit dié kartonruimte kon ’n mens destyds maklik die foto’s, met omgebuigde hoekies, haal en daarna kyk en weer kyk – beurtkrag of nie (hoewel beurtkrag nie ’n kwessie tydens dié skooltassie-era was nie).
Jy kon die foto omdraai en dalk ’n datum, plek en naam agterop vind.
Die briewe kon ’n mens rangskik en met ’n lint bymekaar hou. Jy kon daaraan ruik en jou die teenwoordigheid van die versender verbeel.
Só ’n tassie kon wel wegraak, en geen wagwoord kon die inhoud teen nuuskierige oë beskerm nie.
Die digitale era hou sy voordele in, maar skep telkens ’n gevoel soortgelyk aan dié van leë beloftes: Jy weet dit waarna jy soek of waarna jy wil kyk, is daar; byna-byna binne bereik.
Maar vervlaks of jy dit kan opspoor.




