Die groen lig is Maandag (16/01) deur Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, vir die uitreiking van 2022 se matriekuitslae gegee.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, maak die uitslae Donderdagaand bekend. Kandidate sal Vrydag hul uitslae ontvang.

Hoewel daar in die eindeksamen ernstige aantygings van kullery en onreëlmatighede was, sê dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, hulle is “tevrede dat alle standaarde” bereik is. Die gevalle waar daar wel kullery en onreëlmatighede was, was die uitsondering.

Die eindeksamen is deur 1 222 652 kandidate afgelê – ingesluit die departement van basiese onderwys se kandidate (940 366) en kandidate wat goedgekeurde onafhanklike eksamens afgelê het.

Prof. Yunus Ballim, voorsitter van die Umalusi-raad, sê hulle is tevrede dat riglyne en maatreëls in die matriekeindeksamen gevolg is.

Hy sê hulle is bekommerd oor die getal kandidate wat gekul het en dat selfs toesighouers in party gevalle gehelp het. Dié individue word aanspreeklik gehou.

Die departement van basiese onderwys het 66 vakke aan Umalusi oorhandig vir ontleding om te bepaal of daar aan die standaarde voldoen is.

Ballim sê 47 vakke se punte is aanvaar, terwyl 16 s’n opwaarts aangepas is en drie s’n afwaarts. Die vakke wat opwaarts aangepas is, sluit in wiskunde, geskiedenis, inligtingstegnologie en visuele kuns. Ekonomie, aardrykskunde en Zoeloe-huistaal se punte is afwaarts aangepas.

Ballim sê wat die omstrede vraag in die tweede wiskunde-vraestel betref, waaroor wyd berig is, is bevind dat die fout in die laaste fase van gehaltebeheer ingesluip het.

Breyten Cupido

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article