Patriotic Alliannce (PA)-partylede loop deur die state van wyk 1 om kiesers te oortuig om vir hulle te stem.

Foto: Facebook/Johan Loff

Die ANC, DA en die Patriotic Alliance (PA) is in ’n fel stryd gewikkel vir die komende tussenverkiesing op 22 Februarie in wyk 1, wat gedeeltes van Roodepan en Platfontein in Kimberley insluit.

Dié uitslag kan bepaal of die ANC hul meerderheid van net een setel in die Sol Plaatje-munisipaliteit kan behou of nie.

Al die partye sê hulle wil dienslewering verbeter om Roodepan en Platfontein se mense in wyk 1 te bemagtig.

Die PA-kandidaat is Johan Loff. Sharifa Ferris, provinsiale sekretaris, sê Loff is in Roodepan gebore en getoë en het ’n diep begrip vir die woongebiede se uitdagings.

“Hy is al jare betrokke om dwelmverslaafdes te rehabiliteer en bendegeweld uit te roei en is die voorsitter van die buurtwag wat hy help stig het. Hy en gemeenskapslede maak gereeld parke skoon en help om kos te versprei. Hy was aktief betrokke by die geïntegreerde ontwikkelingplan (IDP)-vergadering en het pertinente vrae oor sekere uitdagings aan amptenare gestel.

“Die gemeenskap se probleme is armoede, gebrek aan werksgeleenthede, behuising en swak dienslewering, kwessies waarin die ANC faal. Ons benodig ’n effektiewe munisipaliteit wat verantwoordbaar is. Ons is bekommerd oor die wyse waarop raadsbesluite deurgedruk word. Inwoners benodig leiers wat dien, en nie gedien wil word nie.”
Sharifa Ferris

Sy sê die ANC behoort bekommerd oor die tussenverkiesing te wees.

“Hulle het die mense te lank misken en minag. Skielik verskyn LUR’e, die burgemeester en premier in die strate. Nou word aandag aan stukkende straatligte, swak paaie en die afgeleefde munisipale woonstelle gegee. Dit help veel om mense op die kort duur kospakkies te gee. Gee hulle eerder menswaardigheid en bemagtig hulle om vir hulself te sorg.”

Harold McGluwa, DA-leier, sê hul kandidaat se naam is nog nie bekend gemaak nie.

“Dienslewering onder die ANC stort inmekaar, maar inwoners kan dit omkeer deur die ANC uit te stem. Die situasie is dus nie hopeloos nie. Ons wil met opposisiepartye saamwerk om die gebroke munisipaliteit reg te ruk. Beleggers wil nie eens meer na die vuil en verwaarloosde stad verhuis nie.

“Die probleme wat ons wil help oplos is Platfontein se vervoerprobleme omdat hulle ver uit die stad geleë is. Hulle benodig ’n satelliet brandweerstasie en polisiekantoor. Die swak paaie, rioolprobleme, slaggate, ontblote elektriese kabels en watertekorte moet opgelos word.”

Volgens Thabo Mothibe, ANC-woordvoerder, is hul wykskandidaat Ferguson Moses, ’n gewilde gemeenskapsaktivis. Die party is vol vertroue dat hulle die wyk gaan behou.

“Ons is deeglik bewus van uitdagings want ons vra mense daagliks op deursigtige en eerlike wyse uit. Die party regeer nie uit ivoorpaleise nie en hou gereeld lekgotla’s om ons tekortkominge en diensleweringsplanne op te los.”

Hulle is bewus dat belastingbetalers waarde moet kry en goedgekeurde informele nedersettings grootmaatinfrastruktuur dringend benodig.

Hy erken dat die ANC-beheerde munisipaliteit nou strate regmaak, en straatligte en die Roodepan-woonstelle herstel.

“In ons deur-tot-deur veldtog hoor ons van probleme en herstel dit dadelik; ons kan nie rampe laat gebeur nie. Die party is bewus van swak infrastruktuur en het byvoorbeeld met behulp van die nasionale departement begin om slaggate te herstel.

“Ons is slagoffers van die apartheid-regime waarin woonbuurte aan die buitewyke van die stad in vloedgebiede en weg van ekonomiese aktiwiteite gebou is. Dit bemoeilik dienslewering.

“Vandalisme aan gemeenskapsentrums is ook ’n probleem. Dwelmmisbruik is groot oorsake, want dwelmslawe verkoop enigiets waarop hulle hul hande kan lê. Die gemeenskap moet help om geboue te beskerm. Ons sal binnekort ’n aankondiging maak oor hoe die infrastruktuur beter beskerm gaan word.”
Thabo Mothibe

Volgens hom is die ANC ’n party wat “omgee en die huidige geslag ontwikkel en bemagtig.

“Alle partye deel kospakkies en T-hemde aan mense uit. Die party deel kospakkies op sy eie koste uit aan behoeftige mense. Dit is ’n belediging vir kiesers dat hulle met kospakkies omgekoop kan word.”

  • Intussen het dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse ANC-voorsitter en premier van die provinsie, Dinsdag tydens ’n mediakonferensie om die One Day International (ODI)-kriekettrofee in Kimberley bekend te stel, aangekondig dat sy kantoor R200 000 bewillig vir krieketkaartjies vir leerlinge van die Hoërskool Roodepan en Pescodia.

Met dié kaartjies sal die leerlinge die gesogte internasionale eendagkrieketwedstryd tussen die Proteas en Engeland op die Diamant-ovaal in Kimberley kan bywoon.

Die betrokke kaartjies kos R250, en 800 leerlinge sal die wedstryd op dié manier kan bywoon. Saul het gesê dat vervoer ook vir hulle gereël sal word.

Op navraag het Bronwyn Thomas-Abrahams, woordvoerder van die premier se kantoor, gesê die regering het nog altyd toegangskaartjies vir groot sportgeleenthede vir leerlinge van voorheen benadeelde skole gegee om jong mense te ontwikkel, en ter wille van inklusiwiteit. Dit sluit sportsoorte soos rugby, krieket, sokker en netbal in.

“Ons het nou kaartjies aangekoop vir leerlinge van die hoërskole Pescodia, Roodepan, Moghul Park en EP Lekhela. Elke skool sal ook vier stelle kriekettoerusting ontvang. Die projek is deel van ons belegging in toerisme, sportontwikkeling en maatskaplike samehorigheid, en word deur die jaar in alle distrikte gedoen.”

Sy sê die een skool is nie in die wyk waar daar binnekort ? tussenverkiesing plaasvind nie, en enige vooroordele is sonder meriete.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article