Stukke van die geboustruktuur en deure is gevandaliseer.

Foto: Facebook/Pakes Dikgetsi

Gras groei deur die plaveisel van die sentrum.

Die mos en gras groei deur die plaveisel wat onder water staan.

Skaars 16 jaar nadat die Mayibuye-gemeenskapsentrum in Galeshewe in Kimberley met groot ophef geopen het, staan dit gevandaliseer, verwaarloos en oorgroei ondanks die pleidooi van ’n vorige premier dat dit “opgepas en mooi gehou” moet word.

Gemeenskapslede het verlede week hul misnoeë oor die verval van die sentrum uitgespreek nadat Pakes Dikgetsi, ’n eertydse provinsiale Cope-leier, foto’s van die vervalle gebouekompleks op Facebook geplaas en sy teleurstelling uitgespreek het. Dikgetsi dien in Cope se uitvoerende raad.

Hy sê sy die doel met die plasing is om aan sy party se teenstanders te bewys dat hulle nie hulself kan bestuur nie, en ook nie geboue kan onderhou nie.

“Dit is hartverskeurend om dié mislukkings te aanskou.”

Die sentrum is in 2007, drie jaar ná die beplande voltooiingsdatum deur Dipuo Peters, destydse premier, ingewy. Dit is skynbaar nie meer die “bastion” waar “feesvieringe en belangrike geleenthede gehou word” of “kunstenaars hul talente kan slyp, ontwikkel en hul werk verkoop” nie.

Die sentrum, wat destyds R40 miljoen gekos het, sou ook ’n gimnasium en sportsentrum huisves.

In sy kommentaar op Dikgetsi se plasing sê Maphefo Molatlhwa hy is hartgebroke oor die stand van die gebou, “en dit is nie eens 20 jaar nie.” Mampoi Hilarie Weeto sê wanneer twee olifante baklei, word die gras vertrap, en dit is die gemeenskap en kinders wat daaronder ly.

Gwadiso Mgerengo skryf die swak toestand van die gebou aan wanbestuur en swak regering toe. Peplo Matsheka het bevestig dat die gimnasium intussen toegemaak het. Volgens Zittó Abuti Ramoer het kunstenaars wat al navraag gedoen het of hulle dit vir repetisies kan gebruik, gesê die sentrum is gesluit. “Nou staan dit net daar en verval by die dag.”

Christine Compton Filmalter sê “Mag en hebsug sal die toekomstige generasies verhonger.” Tembile Yako sê mense moet hulself vra of hulle ’n regering het of net “salarisontvangers”.

Lebogang Papa Mocwaledi het sarkasties gevra of die wit monopolie kapitaliste weer blameer gaan word. “Ons skryf mos al ons probleme aan hulle toe, nè”.

Themba Malinga sê dit kom voor of geld vir die onderhoud nie toegeken word nie, of wanbestuur word. Rushca Highlyfavored Cufa het gesê dit is ’n ramp in die naam van ’n kunssentrum.

Die sentrum is geopen op die plek waar die sogenaamde bierhuis nr. 3 gestaan het.

“Ons mense gaan nie meer berug wees vir alkoholmisbruik nie, maar vir hul waardering vir die kunste,” het Peters destyds gesê.

“In die ou Galeshewe was daar vyf bierhuise wat deur die apartheidsregering gebou is om swart mense besig te hou. Waar bierhuis nr. 1 was, is ’n mosaïekprojek gebou sodat kuns en kultuur seëvier as deel van ’n stedelike herontwikkelingsprojek,” het Peters gesê.

Bierhuis nr. 2 is afgebreek en ’n entrepreneursentrum gebou.

Volgens Peters sou die sportwetenskap-instituut en gimnasium ’n plek wees waar atlete hulself kon ontwikkel.

“Dit sal ons mense in staat stel om vir die sterre te reik”.

Die konferensiesaal vir tot 350 mense moes die gemeenskap verenig.

“Die land en die provinsie benodig meer sentra soos dié een. Ons moet dit oppas en dit mooi hou. Ons het uit die as opgestaan en is besig om in nuwe mense te ontwikkel.”

Toe Manne Dipico as premier in 2004 die grond aan die ontwikkelaar oorhandig het, het hy gesê die gebou sal ook ’n internetkafee, beroepsentrum, snoekertafels, tafeltennistafels, video- en ander speletjies, ’n sakesentrum, sportkroeg en restaurant huisves. Dit sou ook geriewe bevat waar metaalkuns, visuele kuns, pottebakkery, binnenshuise versiering en juweliers- en mode-ontwerp beoefen kon word.

Morapedi Sekhoane, woordvoerder vir die departement van sport, kuns en kultuur, sê hul begroting is onvoldoende om die geboue­kompleks te onderhou.

“Die departement het ’n bykomende assesseringsverslag van die departement van paaie en openbare werke aangevra om die pad vorentoe te bepaal. Ons doen mindere onderhoud en opknappingswerk soos die begroting dit toelaat. Dit sal R10 miljoen kos om die gebou op te knap.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article