Geweld in die Namakwalandse dorp, Steinkopf, raak ’n toenemende probleem en jong seuns beseer ander glo daagliks met pangas, en beskadig ook eiendom.
“Senior burgers moes al voor klippe en pangas hardloop waar hulle slegs op ’n Sassa-dag hul toelaag in vrede wil gaan trek,” vertel ’n inwoner.
Dié inwoner vertel dat dit ’n risiko vir inwoners is om die middedorp te besoek.
In Augustus verlede jaar het ’n inwoner aan NoordkaapBulletin vertel dat tot skoolkinders deur die pangabendes bedreig word, en dat dié bendes uit tien tot 30 lede kan bestaan.
Inwoners kla ook reeds ’n geruime tyd oor die gebrek aan mannekrag en voertuie by die plaaslike polisiekantoor, en sê verskeie vergaderings het nog net op dowe ore geval.
“Die onvermoë van die polisie om die geweld te stop is ’n kopseer vir die gemeenskap, met ’n stasiebevelvoeder wat arrogant teen die gemeenskap is as hulle oor die probleme kla,” sê ’n gemeenskapslid.
Volgens die lid is die LUR van transport, veiligheid en skakeling al uitgenooi om na die gemeenskap se griewe te kom luister. Dit het tot dusver nog nie gebeur nie.
Gemeenskapslede van Steinkopf sal graag wil sien dat die provinsiale polisie kommissaris ’n besoek aflê.
“Die gemeenskaplede dreig om wet in eie hande te neem en die plaaslike polisiekantoor se deure toe te maak, want dit beteken niks vir die gemeenskap nie,” sê die beswaarde inwoner.
In navraag hierop het brig. Mashay Gamieldien van die polisie se mediasentrum, gesê dat die Namakwa-distriksbevelvoerder, brig. Schalk Andrews, bewus is van die kommer wat deur ’n groep gemeenskapslede geopper word.
Volgens Andrews is voorvalle, waarby pangas betrokke was, by die polisie aangemeld.
Betreffende die bewerings van die stasiebevelvoerder se optrede, is ’n interne ondersoek aan die gang, sê Gamieldien, en sê dat die uitslag van die ondersoek sal bepaal hoe dit verder bestuur sal word.
Gamieldien sê Andrews het ’n vergadering, wat deur ’n gemeenskapsgroep belê is om hul bekommernisse te bespreek en oplossings te vind, bygewoon.




