Die waterwiel in Keimoes, ’n historiese gedenkwaardigheid. Keimoes is een van die dorpe in die Kai !Garib-munisipaliteit.

Foto: Helena Barnard

Die omstrede raadsvergadering op 8 Februarie waarin opposisiepartye die ANC-burgemeester en -speaker van die Kai !Garib-munisipaliteit in Kakamas “uit die kussings gelig” het, word Donderdag opgevolg deur ’n vergadering wat belê is nadat die LUR van samewerkende regering ingegryp het.

Die eerste vergadering is gehou nadat Hope for the People (HFTP) ’n mosie van wantroue teen die ampsdraers ingestel het. Terwyl dié party volhou sy lede is nou speaker en burgemeester, hou die ANC vol sy ampsdraers is nie uit die kussings gelig nie.

Babalawa Mzambo, woordvoerder vir die departement van samewerkende regering, behuising en tradisionele sake, sê die betrokke raadsvergadering word as onwettig beskou.

“Die raad is aangesê om die vergadering weer te hou. Die aanvanklike vergadering is op kort kennisgewing gereël, en wetgewing en regulasies vir die verwydering van die burgemeester en die speaker is nie gevolg nie. Die waarnemende munisipale bestuurder wat op die vergadering aangestel is, is ook onwetlik omdat geen werwings- en behoorlike aanstellingsregulasies nagekom is nie.”

Marshall Matthys, ANC-burgemeester, en Ethel Vass, ANC-speaker, is glo uit die kussings gelig, en die HFTP se Trompie Renier tot nuwe burgemeester en Marius Basson tot die nuwe speaker verkies. Op die vergadering wat deur nege opposisieraadslede en een ANC-raadslid bygewoon is, is die waarnemende dorpsbestuurder ook met ‘n ander een vervang. Die ANC het tien raadslede, en die opposisiepartye nege.

Renier, die HFTP se woordvoerder, hou vol hy is die nuwe burgemeester. Hy stem nie saam dat die vergadering ongrondwetlik was nie.

“Die departement mag nie inmeng by ons raadsvergaderings of ons voorsê nie. Anders moet hulle hof toe gaan as hulle meen prosedures is nie gevolg nie.”

Renier sê hulle het die mosie van wantroue reeds in November 2022 saamgestel en wou dit op ’n raadsvergadering bespreek.

“Die speaker het dit egter vertraag. Ons jongste raadsvergadering is binne 48 uur belê en prosedures is gevolg. Ons het vele griewe teen die ampsdraers. Vroeër vanjaar het die burgemeester ’n waarnemende dorpsbestuurder aangestel sonder om die wetlike vereistes te volg, wat ons betwis het.”

Benewens die aanstelling van die dorpsbestuurder, is daar ander kwessies wat in die mosie van wantroue uitgelig word. Dit behels watertoevoerprobleme, wat Renier as ’n “krisis” bestempel; ’n onvoltooide padprojek in Lutzburg; die vervalle toestand van begraafplase; die skuld aan Eskom; en die onvermoë om amptenare en werkers se siekefonds- en pensioenbydraes te betaal.

Die burgemeester het nie verslae oor die munisipaliteit se geldelike toestand, besteding van regeringstoelae en ander projekte op raadsvergaderings gedeel nie. Misdadige bedrywighede by die munisipaliteit is ook nie by die polisie of spesiale ondersoekeenheid aangemeld nie.

Priscilla Isaacs, DA-kiesafdelingshoof, sê vertragingstegnieke deur die meerderheidsparty is nie nuut nie.

“Die ANC-burgemeester, speaker en dorpsbestuurder was bewus van die jongste spesiale raadsvergadering wat die opposisie belê het, maar was afwesig. Hoewel die vergadering nie reg belê was nie, het die gebeure die LUR genoop om op te tree en sy aandag gevestig op die diensleweringsprobleme in die dorp. Die wyse waarop ’n nuwe dorpsbestuurder aangewys is, is nie korrek nie. Ons vereenselwig ons met die jongste samesprekings en versoek ’n nuwe vergadering waar die mosie van wantroue kan dien.”

Sy sê die regte prosedure sou wees om die hulp van die departement in te roep omdat die speaker en dorpsbestuurder nie reageer het op die versoek vir ’n spesiale raadsvergadering nie. Die departement moes ’n seremoniële voorsitter op die vergadering aanstel sodat ’n nuwe speaker verkies kon word.

“Die dorp verkeer in ’n krisis, en die aanstel van die regte dorpsbestuurder is kardinaal om die dorp reg te ruk.”
Priscilla Isaacs

“Politieke partye moet saamwerk om die munisipaliteit reg te laat funksioneer. Ons moet leer om na mekaar te luister.”

Thabo Mothibi, ANC-woordvoerder, het die party se misnoeë in ’n verklaring uitgespreek.

“Die optrede van die opposisiepartye is veragtelik, kwaadwillig en is sabotasie.

“Die onwettige vergadering en mosie van wantroue is ’n desperate poging om die wil van die mense te ondermyn. Dit is deel van ’n plan om die ANC ook in ander munisipaliteite in die provinsie te ondergrawe en ons aandag van die nasionale verkiesing in 2024 af te trek.

“Ons burgemeester en speaker bly in hul ampte en is nie ontsetel nie.”

Wingerde en ’n besproeiingskanaal in Kakamas. Landbou en toerisme is die hoofbron van inkomste in Kakamas, wat deel van die Kai !Garib-munisipaliteit is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article