Neels Coetzee, Margit Meyer-Rödenbeck (tweede van links), Ilne Fourie (in rooi) en Marion Holm is op 25 Februarie in Kimberley in die produksie Laerskool Noord te sien.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Drie onderwysers beplan ’n verrassingsafskeidspartytjie vir hul skoolhoof se aftrede.

Die personeelkamer is egter ’n tikkende tydbom, met die netbaljuffrou Zelda de Wet se vreeslose fluitjie; Bets du Preez se dramatiese deurmekaar administrasie en kaftans; en die sorglose gr. 2-hoof Marietjie Marais met haar glinsterende plakkertjies en kleefpapiertjies wat altyd die vrede probeer bewaar.

Spanning loop hoog omdat die partytjie ’n verassing moet wees, maar boonop omdat Meneer enige oomblik kan aankondig wie by hom as die nuwe hoof van Laerskool Noord – met die leuse: Kyk Noord en Stoot Voort – gaan oorneem. Kan dit dalk een van hulle wees?

Dié komedie, Laerskool Noord, bied ’n komiese blik op wat agter die swartbord aangaan, met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee in die rolle. Die regie word deur Gideon Lombard behartig, met Fourie wat vir die teks verantwoordelik was.

Dié produksie is in samewerking met die Vrystaat Kunstefees, Aardklop en NATi geskep.

Sien dit op 25 Februarie om 19:00 by die Laerskool Newton in Kimberley. Geen kinders jonger as 13 jaar word in die gehoor toegelaat nie. Die deure maak reeds om 18:00 oop.

Die vertoning word ten bate van die ACVV se Ons Huis-versorgingsoord vir bejaardes aangebied.

Kaartjies kos R200 by itickets.co.za en is ook by Barrister’s en Malu Pork in Kimberley te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article