By die rivier van die Gamagara, daar sal ons sit en ons trane sal vloei as ons aan Dingleton dink.
’n Mens dink met heimwee terug na ons geliefde plekkie – daar waar jy kon luister na die stilte en glimlag vir die hemelruim.
Die uitgestrekte vlaktes sal ons lank bybly, met die mooiste sonsondergange wat jy kon beleef.
Elke straat en elke huis daaronder roep sy eie herinneringe op. Baie van ons kinders is op daardie vrye, wye vlaktes gebore. Ons wortels lê daar, ons geliefdes en vriende lê in daardie grond begrawe – ons eie verreland van verlatenheid – met sterbelaaide nagte.
Waar in hierdie land kry jy ’n mooier naghemel as op Dingleton – die helderste waar ek al sterretjies sien skitter het.
Al lê die nagte in die winter donker en koud, het jy geweet jy is op jou hartsplek – jou huis is immers waar jou hart is. Dit is tye wanneer jy buig uit dankbaarheid vir wat die plek vir jou beteken het.
Nou mis jy die besonderse menswees van so baie vriende wat nie meer met ons is nie, en wat met soveel lof en nostalgie oor Dingleton kon praat.
Dit laat ’n mens soms gebroke en jy ervaar diepe pyn.
’n Vriend het altyd gesê as hy eendag voor my tot sterwe kom, moet ek aan hom dink wanneer die son sak, want dit is wat hy die meeste van Dingleton gaan mis – die pragtige sonsondergange. Daarom het ek ’n kort boodskap vir elke mens – keer terug na die eenvoud van die lewe.
Die vreugde van die Dingleton-beeld sal my altyd bybly. Selfs met onweer was Dingleton uitsonderlik. Dit het soms gevoel asof die weerlig en donderweer die aarde in twee slaan.
Al sou die winterwinde buite waai, sal ons altyd verlang na ons plekkie. Al lê die nagte donker soos ink oor die landskap, verlang ons na Dingleton.
Al kan verlange soms genadeloos wees, ons menswees het nie gaan lê nie – ons wilskrag is nog sterk. Ons gun Kumba om die ryk ystererts op ons eens pragtige plekkie te ontgin. Ons het onsself losgemaak daarvan en vrede gevind.
Daar moet tog regverdig na die inwoners van ons sonstraalplek gekyk word. So leef ons in herinnering. Baie karakters het op Dingleton gebly. Ook mense by wie ons baie kon leer – hoogs intelligente inwoners. Baie van ons jeug het ver gevorder ná skool en staan hul plek in die samelewing vol.
Vandag besef jy die trauma waardeur ’n mens gaan in só ’n verskuiwing. Dit laat letsels – wat dalk ’n leeftyd neem om te genees. Ek, persoonlik, mis die voëls se gesang die meeste van ons eens mooi plekkie. Soggens, douvoordag, het die voëls jou wakker gemaak as hulle hulself verlustig in die vrugte in bome. Voëltjies in duisende het hulle tuisgemaak onder die Dingleton-hemel.
Ek glo sterk die menslike verstand het nie begryp wat aan die gebeur was nie, daarom die vele foute wat ons Dingleton-gemeenskap gemaak het. Vandag herkou ons aan baie dinge wat verkeerd gegaan het. Dingleton het ons eindelik laat gaan, maar die onopgeloste vrae bly spook. Selfs die treurende bome was ’n hartseer gesig om agter te laat. Dit het my laat dink aan ’n eensame bedlampie op ’n eensame bedkassie – sien alles maar sê niks.
Die wêreld smag na die uiters hoë gehalte ystererts van die omgewing.
Daar sal altyd ’n soeke na vergifnis wees.
Wat my egter hinder: Dingleton, waar is jou wyse manne nou? Jy bly verslae oor al die tekortkominge in die verskuiwing na Kathu en elders. Hier moet ons probeer heel raak en gesond word – ter wille van onsself.
Dingleton, ons swyg steeds oor die laaste oomblikke, maar sal vir solank ons leef jou salueer en oor jou treur.



