Noord-Kaap Netbal het nie net een geakkrediteerde Suid-Afrikaanse skeidsregter wat as gradeerder vir skeidsregterkursusse kan optree nie.
Hierdie bevestiging en regstelling is vanaf Noord-Kaap Netbal ontvang. Dit kom na aanleiding van ’n berig in ’n Noord-Kaapse publikasie wat geen bande met NoordkaapBulletin het nie.
In die amptelike skrywe van die netbalfederasie word die berig wat op 10 Februarie publiseer is, as “onwaar en gegrond op leuens” beskryf. Volgens dié berig bestaan daar ’n “netbalkrisis” in die provinsie omdat daar slegs een geakkrediteerde Suid-Afrikaanse netbalgradeerder, wat geakkrediteerderde skeidregterkursusse mag aanbied, is.
Luidens dié berig is daar ’n “verknorsing” in die provinsie “wat moontlik die agteruitgaan van jare se ontwikkeling in netbal in Namakwaland en Noord-Kaap kan veroorsaak”. Voorts word beweer dat ’n geakkrediteerde skeidsregterkursus wat later die maand in Springbok plaasvind, in die weegskaal is weens die sogenaamde tekort aan gradeerders.
“Volgens skole- en federasie-konstitusie is dit duidelik stupileer dat wanneer enige kursusgeleentheid gereël of aangevra word, dit deur die distrik of federasie deurgegee moet word.
“Protokol is nie gevolg nie, want dan sou die persone die inligting ontvang het dat daar wel mense in die Noord-Kaap is wat die kursus mag aanbied,” lui die skrywe vanaf die federasie wat deur die Noord-Kaap netbalpresident Chamelle Mc Anda onderteken is.
Volgens die skrywe is die klaer nie ’n geaffilieerde lid van Netbal Suid-Afrika nie. Dit is onder die federasie se aandag gebring dat die klaer iemand vanaf die Wes-Kaap gevra het om die kursus in die Noord-Kaap aan te bied.
“Hierdie persoon het uit Netbal Suid-Afrika bedank en is nie deel van die Noord-Kaap Netbal-moederliggaam nie. Hiermee doen Noord-Kaap Netbal afstand van enige politieke agenda wat mag bydrae tot die aangeleentheid en versoek ons as federasie dat netbal met liefde en passie uitgeleef word,” skryf Mc Anda.



