Talle ondernemings in die Turnerweg-nywerheidsgebied in Kimberley het sedert begin Desember miljoene rande se besigheid verloor weens die oorstroomde duikweg in Hullstraat.
Sake-eienaars hoop nou dat ’n openbare-private vennootskap waarop Maandag (13/02) ooreengekom is, ’n permanente oplossing sal bied om die oorstroming van dié hooftoegangsroete na die gebied te verhoed.
“Hullstraat en die roete deur die duikweg is ons toevoer-aar. As die duikweg toe is, gaan veral ons inloopkliënte na ander besighede in die stadsgebied,” sê ’n sake-eienaar.
’n Bestuurder by een van die oudste ondernemings in Kimberley, wat in die gebied geleë is, sê dat hulle volgens projeksie sedert Desember ongeveer R2,95 miljoen op inloopkliënte se besigheid verloor het omdat die duikweg onbegaanbaar was. Baie kliënte sien nie kans vir die slegte ompad deur De Beers nie. Kon hulle die roete deur die duikweg gebruik, sou dit hulle 20 sekondes vanaf die N12-roete tot in die gebied neem.
’n Verdere probleem is vragmotors wat produkte moet oplaai of aflewer. Is die duikweg toe, moet ook hulle op ompaaie deur woonbuurte vleg.
Die duikweg oorstroom wanneer dit reën, en vermoedelik dra varswater- en rioollekkasies tot die watervlak in die duikweg by. ’n Pomp van die Sol Plaatje-munisipaliteit wat permanent by die duikweg gekoppel moet wees om water uit te pomp, word gereeld gesteel, of sy elektriese kabels.
Wanneer die duikweg oorstroom, beland voertuie gereeld in die water. Verdrinkings word gevrees, asook siektes weens die riool in die water. Haweloses skep hier water, en kinders swem daarin.
“Die duikweg wat so gereeld oorstroom, is ’n verleentheid,” sê ’n ander sake-eienaar.
“Intussen moet ons steeds munisipale belasting en heffings vir dienste betaal waaruit ons weinig baat. Ons betaal ongeveer R300 000 tot R400 000 hieraan. Ons benodig werklik veel meer dienste om dit te regverdig.”
Nog ’n sake-eienaar stem saam oor die nywerheidsgebied wat met dienslewering afgeskeep word. By haar onderneming is ’n rioolpunt wat gereeld die hele erf oorstroom. Rietbosse elders in die gebied wat in die rioolafvoerpype groei, dra vermoedelik tot die probleem by.
Ná ’n medianavraag Maandag het Thoko Riet, woordvoerder, gesê ’n vergadering het tussen van die ondernemings en die munisipaliteit plaasgevind.
“Ons het op ’n publieke-private vennootskap ooreengekom om die duikweg leeg te pomp,” sê sy.
Hiervolgens sou die ondernemings die duikweg leegpomp, waarna die munisipaliteit die elektriese onderdele en ander infrastruktuur vir die pomphuis sou vervang.
Derrick Dobson jr. van Sealing Solutions sê saam met Super Armature Winding is die water weggepomp, en is hulle besig om die oorhangende bome weg te snoei. Simone Greeff, DA-raadslid wat die munisipaliteit en die sake-eienaars byeengebring het, word vir haar aandeel bedank.
“Die kabels sal in sement gegiet word en ondernemings sal ’n alarmstelsel beskikbaar stel. Dit behoort ’n permanente oplossing te wees. As diefstal voorkom kan word, sal die duikweg nie weer oorstroom nie,” sê Riet.




