’n Jukskei-veteranetoernooi, waaraan agt gebalanseerde en mededingende spanne deelneem, vind Saterdag (18/02) in Kimberley plaas.
Dié Midas van Jukskei Veterane-toernooi vind vir die tweede keer plaas, en 24 mans en agt vroue van distrikte en provinsies van oral oor die land heen, asook van Namibië, gaan meeding.
“Hierdie spelers het baie kennis en ondervinding van die sportsoort. Ons jukskei-veterane dra deurgaans die ondervinding oor aan die spelers wat volg,” vertel Bets Hansen van die Kimberley-jukskeiklub.
Dit is vir dié klub ’n voorreg om die beste van die bestes op sy terrein te ontvang, en Hansen sê puik spelers en goeie kombinasies, met opwindende jukskei, is ’n belofte.
Die naam van die toernooi is ontleen van koning Midas en sy goue aanraking – die vermoë om alles waarby ’n mens betrokke is, met ’n Midas-aanraking suksesvol te maak.
In jukskei bestaan ’n span uit vier lede, waarvan een vir die Midas-toernooi ’n vrou moet wees. Twee spanne ding op ’n slag teen mekaar mee, waartydens skeie tussen 11 m en 16 m ver na ’n pen in ’n sandput gegooi word.
Sedert die ontstaan van jukskei het dit ontwikkel tot ’n sportsoort wat ’n hoë mate van kundigheid en vaardigheid vereis. Tegniek, presisiegooi en strategie is kernbeginsels, met die kaptein wat ’n strateeg moet wees.
Hoewel jukskei net in Suid-Afrika en Namibië as amptelike sportsoort beskou word, word dit ook onder meer in Amerika, Spanje, Uganda, Botswana en Zimbabwe gespeel.
Volgens Jukskei Suid-Afrika se webwerf kan die ontstaan van jukskei teruggevoer word na omstreeks 1734, toe ’n fort aan die Buffelsjagrivier in die Wes-Kaap opgerig is om onder meer hout aan die kasteel in Kaapstad te verskaf. Die soldate het hier glo met jukskeie en houtstompe na ’n voorwerp in die grond gegooi om ledige ure te verwyl. Die spel is uitgebrei en tot ’n georganiseerde spel ontwikkel. Die eerste amptelike wedstryd is in 1939 gespeel, met die eerste interprovinsiale wedstryd in 1940. Dit is ’n volwaardig erkende sportsoort waarin nasionale kleure verwerf kan word.
Die jukskei-seisoen duur normaalweg van Augustus tot ná die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Maart of April, met die Namibiese kampioenskap gewoonlik in Junie.
Kroonstad is die hoofsentrum vir jukskei.
Die sportsoort van jukskei is gesond, sê Hansen, en Jukskei Noord-Kaap is dankbaar vir getroue borge. Jukskei word gereeld op sosiale vlak in talle dorpe gespeel. Hoewel daar kinders is wat deelneem, sal Jukskei Noord-Kaap graag wil sien dat die skole-jukskeiliga herleef.
’n Groot pluspunt van jukskei is dat dit ’n familiesportsoort is. Hansen en haar man, Johan – die voorsitter van die Kimberley-jukskeiklub – is albei in jukskei-families gebore. Johan, wat nasionale kleure verwerf het, se ma het in 1961 Springbok-kleure in dié sportsoort verwerf. Hansen het ook nasionale kleure, asook hul drie kinders.
Belangstellendes kan die Midas-toernooi vir die duur van die byeenkoms op DigiTV volg, of by die Kimberley-jukskeipark in Mooreweg bywoon. Dit duur van 08:00 tot omstreeks 17:30. Verversings word te koop aangebied.




