’n Kunsprojek met die tema “kameraadskap” word deur Ons Karoo en Kontrei aangebied.

Foto: Facebook/Ons Karoo en Kontrei

Alle kunstenaars in die Karoo en omliggende platteland word genooi om aan ’n kunsprojek, met die tema “kameraadskap”, deel te neem.

Die 20 topkunswerke gaan by verskeie feeste in die Karoo en die omliggende platteland uitgestal word om wyer blootstelling aan kunstenaars uit dié gebied te gee.

’n Openbare stemming sal die 20 topkunswerke, wat deel van die mobiele uitstalling gaan wees, bepaal.

Die volgende fase van die projek is ’n saamgestelde kunswerk wat uit sewe van die kunswerke gemaak sal word. Dit gaan opgeveil word ten bate van die nie-winsgewende organisasie Karoo Calling.

Ons Karoo en Kontrei, ’n eenstop-aanlyngids om die Karoo en omliggende platteland te verken, bied die kunsprojek aan.

Daar kan in drie afdelings deelgeneem word – professioneel, amateur en kinders jonger as 13 jaar. Elke kunstenaar mag net een kunswerk inskryf.

Die kunswerk moet op ’n gestrekte seildoek gedoen word, en die grootte van die kunswerk moet 600 mm x 750 mm wees, met ’n 50 mm speling aan elke kant.

Enige medium kan gebruik word, maar die kunswerk moet vervoer kan word sonder ekstra beskerming soos ’n glasblad, of driedimensionele vorms wat vervoer kan bemoeilik.

Kunstenaars behou kopiereg op hul kunswerke.

Die sluitingsdatum is 30 April. Inskrywings is gratis, en kan aanlyn gedoen word.

Dié kunswerke sal na verwagting op 13 Mei aangewys word.

Van dié 20 kunswerke sal tien uit die professionele afdeling, sewe uit die amateur- en drie uit die afdeling vir kinders jonger as 13 jaar gekies word.

Die mobiele uitstalling sal by feeste, waarvan die datums nog gefinaliseer moet word, te sien wees.

Vir meer inligting oor die nie-winsgewende organisasie Ons Karoo en Kontrei, besoek die Facebook-blad Ons Karoo en Kontrei, en ook onskaroo.org.za

Belangstellendes kan ook kameraadskap.onsknk.org.za besoek vir meer inligting en ook om die kaart van Ons Karoo en Kontrei te sien, of stuur ’n e-pos na adri@onsknk.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article