Ons hele lewe is ingedeel in ure, dae, weke en jare.
Ons weet dit tog almal.
Dit maak ons mens.
Nietig en verganklik.
Dit is eers wanneer jy besef hoe klein ons eintlik is, dat jy verstaan hoe kosbaar die tyd is wat aan ons gegun is.
Daarom moet ’n mens nie tyd mors nie.
En ook nie ligtelik omgaan met die lewe wat jou gegun word nie.
Daar is net sekere datums wat vir ons almal so vas en seker is.
’n Datum van geboorte en ’n datum van sterfte.
Tussen daardie twee datums volg die res.
Al jou liefde, al jou haat, al jou vrede, al jou baklei, al jou vreugdes, al jou trane.
Daarom is dit belangrik om ons dae so deur te bring dat ons vreugde daarin vind.
En ons moet ook mooi omgaan met ander se tyd.
Daar kom dae wat so seer is dat jy daardie datum nooit vergeet nie, en daar kom dae wat soveel vreugde bring dat jy altyd glimlag wanneer jy stop en daaraan dink.
Die grootste fout wat ons herhaaldelik maak, is om te dink dat jy altyd daar gaan wees.
Jy gaan nie.
Verder dink ons dat alles vanselfsprekend is.
Dit is nie.
Ons maak ook die fout om te dink tyd staan stil.
Dit doen nie.
Daarom moet ons, in die tyd wat ons gegun word, doen waartoe ons in staat is.
Die slegte moet ons probeer agterlaat en die goeie probeer doen.
Voordat ons terugkyk met selfverwyt.
Terwyl die tyd daar is.


