Die bejaardes van die Goue Gerwe Kathu het die jaar met opgewondenheid, en nuwe uitdagings en aktiwiteite, begin.
’n Koffie-afspraak by ’n restaurant het die aktiwiteite ingelui, waarna Elsje Voigt die groep besoek en ’n kenmekaar-geleentheid plaasgevind het.
’n Oggend vol ontspanning is deur Petro de Klerk en Linda Pretorius aangebied. Verskeie liedjies is gesing, voordragte gedoen en dwarsfluitmusiek aangehoor. ’n Groot verrassing was toe kleinkinders vir hul ouma ’n liedjie gesing het en blomme uitgedeel het.
’n Interessante program lê vir die jaar voor, onder meer ’n besoek van ’n sielkundige wat oor depressie gaan gesels. Op 11 April word die Berg-en-Rus-ouetehuis in Olifantshoek besoek, en bingo-kuierdae is altyd groot pret.
Die Goue Gerwe het weer begin pannekoek bak – Vrydae van 08:30 af by die Pick n Pay. Ongeveer 400 pannekoeke word gebak, wat baie vinnig opgeraap word.
Die bejaardes arbei om hopelik vanjaar op ’n toer te gaan. Daar sal plek op die bus wees vir belangstellendes om saam te toer.
Bejaardes van Kathu kan Dinsdae om 10:00 by die NG kerk saamkuier. Bel Susan van der Berg by 084-701-0894 vir inligting.



