Benoem jou gunsteling-dorp vir kykNET se Kwêla Dorp van die jaar-kompetisie en staan ’n kans om met die dorp en sy mense te spog.
In die kompetisie, vanjaar in samewerking met Lottoland, gaan R1 miljoen aan die wendorp geskenk word.
Dié geld sal vir ’n spesifieke projek wat die dorp sal verbeter, gebruik word, en word geoudit. Kwêla sal ook besoek aflê om vir kykers te wys wat met die prysgeld uitgerig is.
Die wendorp kry ook ’n R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n advertensie van 45 sekondes oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai word.
Boonop word ’n groot opskop in die wendorp gehou – met musiek, kos, pret en baie van die wendorp-gees.
Kwêla sal ook daar wees om dit te verfilm, en saai dit later vanjaar uit.
Watter dorp kwalifiseer?
Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, indien dit minder as 500 000 inwoners het; nie ’n streekswenner in die laaste twee jaar was nie (streekwenners in 2021 was Greyton, Upington, Senekal, Koster, Wakkerstroom, St Lucia, St. Francisbaai, Hoedspruit en Gochas; en in 2022 Kroonstad, Montagu, Calvinia, Glencoe, Haenertsburg, Keetmanshoop, Cullinan, Graaff-Reinet en Pelgrimsrus); vorige wendorpe mag vir ses jaar nadat hulle as wenner aangewys is, nie weer deelneem nie. Dié dorpe is Mosselbaai (2017), Jeffreysbaai (2018), Swakopmund (2019), Kareedouw (2020), Greyton (2021) en Kroonstad (2022).
Hoe werk dit?
Benoem jou gunsteling-dorp deur die dorpsnaam na 33157 te SMS (SMS’e kos R1,50). Inskrywings is reeds oop en sluit op Vrydag 17 Maart om 12:00. Jy kan soveel dorpe benoem soveel keer as wat jy wil (net een dorpsnaam per SMS).
Daar sal uit nege streke gekies word: Gauteng en Noordwes saam, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Namibië. Uit elke streek sal die drie dorpe met die meeste benoemings na die halfeindronde deurdring (op 15 April, 23 April en 30 April).
Hier kan die publiek met elke ronde vir hul gunsteling-dorp uit die drie semifinaliste uit elke streek te stem. Dié ronde laat net 30 SMS’e per foonnommer toe. Die dorp met die meeste stemme sal die kompetisiestreek as ’n finalisdorp in die eindronde verteenwoordig.
Kwêla sal ’n insetsel op elk van die nege dorpe wat die eindronde gehaal het, verfilm.
Wanneer al nege dorpe op Kwêla gewys is, sal die publiek van 18:00 op 16 Julie tot 12:00 op 21 Julie vir die wendorp kan stem.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys wat op 30 Julie op Kwêla aangekondig sal word.





