Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, tydens sy provinsiale rede.

Foto: Facebook

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, wat vanjaar sy provinsiale rede in Calvinia gelewer het, het melding gemaak dat die dorp uiters skoon is, en dat “dit die basiese taak is wat elke munisipaliteit moet doen.”

Die teenwoordigheid van Aleksei Malenko, Russiese konsul-generaal, onder die spesiale gaste was opvallend. Die VF Plus stel dit as “die warboel van Suid-Afrikaanse diplomasie”.

Opposisiepartye se reaksie op die rede was gemeng.

Harold McGluwa, DA-leier, sê die prentjie is glad nie so rooskleurig soos wat die premier skets nie.

“Terwyl hy die werk wat sy regering doen opnoem, was dit eintlik ’n weerspieëling van die werk wat nié gedoen word nie.

“Die premier praat baie oor die verlaagde werkloosheidsyfer, maar nie oor verhoogde lewenskostes nie. Hy het geen voorneme genoem om die landbousektor by te staan om voedselsekerheid te verseker weens beurtkrag, die vloede en ander rampe nie. Hy het ook niks voorgestel om plaaslike regerings by te staan om water- en riooldienste te onderhou tydens beurtkrag nie. Dit raak ook skole en gesondheidsorg.”

McGluwa sê Saul is selektief oor die matriekuitslae.

“Hoewel die slaagsyfer 74,2% was, ignoreer hy die ware provinsiale matriekslaagsyfer van 43,6% as die uitsaksyfer in ag geneem word. Hy spog met die verkryging van iPads vir leerlinge, maar sê niks oor om meer skole en klaskamers te bou nie.”

Jaarliks koop die departement van gesondheid net ambulanse aan om die oues te vervang. Die provinsie sit met 69 operasionele ambulanse terwyl die behoefte 184 voertuie is.

“Dit is nie ’n prestasie dat alle munisipaliteite hul finansiële state ingedien het nie. Hy sê ook niks oor die groeiende aantal munisipaliteite wat nie salarisse betaal nie.”

Danie Coetzee, VF Plus-LPW leier, meen ook Saul se rede was vol beloftes, terwyl daar min van voriges gekom het.

“Provinsiale dienste wat die grootste invloed op gewone mense se lewe het, is onderwys, paaie en gesondheid. Die toestande wissel van onbevredigend tot beroerd.

“Hoewel sommige paaie in ’n goeie toestand is, is die hoofroetes van myne rondom Kathu na die uitvoerhawens ontoereikend vir die swaar vragte wat dit dra. Grondpaaie word selde geskraap en is in sommige gevalle onbruikbaar. Sestien paaie word aan Sanral oorgedra, wat die las op die provinsie verlig.

“Nuwe werksgeleenthede word ongeag die provinsiale regering geskep, nie te danke daaraan nie, hoewel die verlaagde werkloosheidsyfer en die ekonomiese groei merkwaardig is.

“Een voorbeeld van private belegging wat ’n verskil maak, is die sowat R400 miljoen wat selfoonmaatskappye aan infrastruktuur bestee het om die provinsiale breëbandstrategie te bevorder.

“Die infrastruktuur van provinsiale hospitale is oorwegend goed, maar die administratiewe ondersteuning ontbreek. Die Vedanta-myn by Aggeneys wat ’n onkologie-afdeling by die Springbok-hospitaal gaan bou, onderstreep die regering se onvermoë.

“Klinieke laat oor die algemeen veel te wense oor, veral in afgeleë nedersettings.

“Noord-Kaapse skole wissel van uitstekend tot bykans disfunksioneel. Of Saul se e-leerstrategie waarvolgens alle skole aan die internet gekoppel word met beter onderwys gepaard gaan, moet nog gesien word.”

Die ruim ontwikkelingsgeleenthede vir hernubare energie en groen waterstof is positief en dat die provinsiale regering aktief betrokke is om infrastruktuur te skep.

“Die rede bevestig die noodsaak om met kaderontplooiing en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) weg te doen om die provinsie se volle potensiaal te ontwikkel,” sê Coetzee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article