’n Rugbyspeler van Upington is in ’n hospitaal in Kimberley dood nadat hy in ’n wedstryd beseer is.
Deandro (Tools) Titus (23) het in ’n duikslag kopbeserings opgedoen, sê Ashley Louw van die Defence Force Collegians-rugbyklub (DFC). Die voorval het op 25 Februarie gebeur in ’n wedstryd tussen DFC en die Groblershoop Eagles-rugbyklub.
Titus het ná die duikslag inmekaargesak.
“Deandro se kop was aan die verkeerde kant van die duikslag en hy het erge trauma aan sy kop opgedoen.”
Hy is inderhaas na die Dr. Harry Surtie-hospitaal in Upington gebring en die volgende dag per lugambulans na Kimberley. Louw sê hoewel Titus vordering getoon het, het sy toestand op 5 Maart verswak en is hy oorlede.
“Ons klub is verpletter. Ons weet nie hoe om dit te hanteer nie,” het Louw gesê.
Die Griekwaland-Wes-rugbyunie het sy medelye uitgespreek.
“Dit is die eerste sterfgeval van ’n speler wat in ’n rugbywedstryd beseer is in die Griekwaland-Wes-rugbyunie se geskiedenis,” sê Kat Swanepoel, amateurrugby-bestuurder van die unie.
Martin de Wee, familiewoordvoerder, sê hulle is geweldig geskok en het geglo Titus sal huis toe kom. Clerese Jonkers, Titus se verloofde, is agt maande swanger.
’n Roudiens word Saterdag (18/03) om 08:00 by Titus se ouerhuis in Rosedale gehou, en om 09:00 in die Verenigende Gereformeerde kerk.
– Verkort





