Slaggate en half herstelde slaggate om skole in Hadisonpark en New Park in Kimberley wek kommer oor padveiligheid in strate waar daar gewoonlik swaar verkeer is.
Terwyl sommige inwoners op Facebook gewonder het of hulle self die slaggate om die Hoërskool Adamantia moet opvul, het ander hulle afgeraai. Slaggate om die Hoërskool Noord-Kaap en ’n dienspad, die Laerskool Newton en die Laerskool Eureka waaraan werk begin en nooit voltooi is nie, wek ook kommer onder ouers.
Angelique Dippenaar, wat daagliks haar twee kinders by die Laerskool Eureka moet op- en aflaai, sê die paaie om die skool en nasorgsentrums is ’n nagmerrie.
“Dit lyk asof die munisipaliteit dit wil herstel, want hulle het die slaggate uitgesny. Byna drie weke lank gebeur daar niks meer nie. Niemand weet wat aangaan nie, want daar is geen kommunikasie van die munisipaliteit nie.
“Dit is werklik gevaarlik, want motoriste swaai gedurig uit vir die slaggate, of rem onverwags. Jy moet omtrent op jou hoede wees. Ek ry darem ’n bakkie, waarin ek veiliger voel. Ek dink motoriste in kleiner motors voel meer onveilig.
“Dan praat ek nie eens van die ander erg gevaarlike slaggat op die hoek van Ellen Carter- en Klisserweg op pad na die skool nie. Dit lyk asof die munisipaliteit daar ook ’n lekkende pyp reggemaak het, maar die rommel is net so daar laat staan. In Heerengrachtlaan in Royldene moet ’n mens vir die massiewe gat naby Gerrit Schoutenweg uitswaai en terselfdertyd probeer om aankomende verkeer te mis.
“Ek probeer aan my kinders verduidelik dat standaarde op ’n tyd baie hoër was.
“Ons durf nie toelaat dat ons standaarde aanhou daal en dit as aanvaarbaar beskou word nie. Die verval is werklik hartseer.”
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê hulle huur masjinerie om die slaggate uit te sny.
“Ons moet die gate sny terwyl ons die masjiene het. Die oorsaak van die vertraging is by die aanleg waar ons die teermengsel aankoop. Die aanleg het nie altyd voldoende voorraad nie. Soms moet ons tot twee weke vir voorraad wag, wat ons skedule vir herstelwerk omvergooi.
“Ons spanne het Vrydag (10/03) begin om die gate om die Laerskool Eureka te vul. Ons versoek motoriste om versigtig te bestuur.”


