Inwoners van Warrenton moet reeds drie weke lank sonder water in die krane klaarkom, en indien inligting in ‘n skrywe vanaf die dorp se burgemeester reg is, gaan hulle nog tot diep in April nie water in krane hê nie.
“Ons is vies,” sê Piet Karsten, ’n bekommerde inwoner wat sê die inwoners van Warrenton-dorp, Warrenvale en Ikhutseng staan saam om mekaar te ondersteun in wat hy as ‘n “totale ramp” beskryf.
Nie net is hulle vies oor die onvermoë van die Magareng-munisipaliteit om die “waterramp” op te los nie, maar ook oor dié dorpsraad se onwilligheid om enige raad of hulp van buite te aanvaar.
Op ’n skriftelike versoek waarin ’n mynmaatskappy waterpype aanbied en kundige gemeenskapslede bereid is om die werk te doen om die watertoevoer te herstel, swyg die munisipaliteit.
’n Groot deel van ’n watertoevoerpyp het drie weke gelede toe die Vaalrivier in vloed was, weggespoel, en geen water kan tans na die dorp gepomp word nie. Die ongeveer 25 000 inwoners van alle woonbuurte is afhanklik van diegene wat boorgate het, en vir die afgelope twee weke het die raad watertenkers beskikbaar gestel.
Volgens inwoners is die watertenkers meer sonder brandstof of staan met een of ander meganiese fout, “of hulle ry op en af sonder om te stop en water te verskaf,” sê een.
Volgens inskrywings op die Facebook-blad Magareng Mayor – Neo Mase, word net sommige mense deur die watertenkers bevoordeel.
“Can’t you get people that are not biased. There is a lot of favoritism,” skryf Oscar Sehoro.
Die moeilik-bekombaarheid van water noodsaak van die inwoners om met waterkanne en ander -houers oor die besige N12-pad te sukkel om water in die Vaalrivier te skep. ‘n Vrou en haar dogter is glo op die pad raakgery nadat hulle gaan water haal het.
Op 8 Maart het die munisipaliteit ’n kennisgewing uitgestuur dat dit ses weke sou duur om nuwe pype van die Vaalrivier aan te lê sodat die dorp weer water kan hê.
‘n Gedeelte van die skrywe lui soos volg: “Late afternoon of yesterday (07 March 2023), we established that about 20 m of the existing pipe in the river has been washed away, this has changed our plans in the restorative construction works that where planned to start.
“At this stage, we will re-route the pipe to the old N18 bridge (low laying bridge) as a measure to restore water supply as soon as possible. We estimate that the re-route will take 6 weeks to complete.”
Die waarnemende munisipale bestuurder, Tumelo Thage, se naam is onderaan die skrywe.
Inwoners se stryd vir water in krane het egter nie drie weke gelede eers begin nie. Die dorp, teen die Vaalrivier, se watervoorsiening- en ander diensleweringsprobleme strek oor ’n paar jaar. Dit behels die nuwe watersuiweringsaanleg wat in meer as twee jaar steeds nie voltooi is nie; riool wat gereeld paaie onbegaanbaar maak; vullis wat nie tydig verwyder word nie; en die lys gaan aan.
Karsten vertel in die straat waar hy bly, is dit soms so modderig weens riool- en ander lekke dat ‘n mens ‘n vierwielaangedrewe voertuig nodig het om in dié dorpstraat te ry. “Dan moet jy nog in donkierat ook ry,” sê hy. Ander voertuie, onder meer koeriers wat aflewerings moet doen, val gereeld vas en die voertuie moet uitgesleep word.
’n Verdere frustrasie van inwoners is dat die munisipaliteit alles in “uiterse geheimhouding” doen en sonder openbare deelname.
Anena Burger het vroeër berig Magareng het op 2 Maart ’n tussentydse interdik teen inwoners bekom nadat hulle einde Februarie uit radeloosheid oor swak dienste vullissakke se inhoud in die munisipale kantore uitgeskud het.
Karsten sê dié interdik gaan teengestaan word.
In kommentaar oor diensleweringskwessies op NoordkaapBulletin se Facebook-blad, skryf Kathleen Koortzen dat Warrenton uitmekaar val, en dat “Magareng-shedding” saam met beurtkrag beleef word.
Tinker on Boerseep Gel skryf mense raak siek sonder water. “Al wat die mayor doen is staan en giggel. Die mense gaan mekaar begin doodmaak vir ’n emmer water.”
Aubnico Nicolas skryf die premier en pres. Cyril Ramaphosa skuld Warrenton ’n besoek. Hy skryf dit is ’n spookdorp met die N12 en die N18 wat deur dit strek, met geen fabrieke of behoorlike infrastruktuur, en dienste in duie.
Daisy Dawson nooi die premier om deur Warrenton te ry om te sien wat aangaan.





