Een van die mooiste eienskappe wat enigeen kan hê, is lojaliteit.
Daarteenoor is dislojaliteit seker een van die dinge wat ’n mens die meeste onkant vang, die meeste seermaak en waarvan ’n mens die moeilikste herstel.
Met ’n lojale mens kan jy ’n oorlog wen, met ’n dislojale mens kan jy nie ’n enkele tree vorder nie.
In ’n klein ou kamertjie in ’n versorgingstehuis sit ek en die ou oom en gesels. Ons gesels oor sy lewe, sy lewenspaaie, die maklike en die moeilike dae. Sy hande wat duidelik tekens dra van jare en jare se harde werk, getuig van ervaring.
Hy onthou ook. Hy praat ook. Hy het al ’n pad geloop.
Hy kyk my in my oë; sê aan my, leer my: “Lojaliteit is waaroor alles gaan. Daar is eintlik net twee soorte mense –hulle met wie jy ’n pad kan loop en hulle wat teenoor niks lojaal is nie.”
In ons gesprek beklemtoon hy hoe mense staan en val by lojaliteit. Almal van ons is soms dislojaal. Ons maak foute. Almal van ons is hopelik meestal lojaal.
“Is jy van karakter lojaal of dislojaal?” vra hy.
Hy het al dislojaliteit beleef, van familie, van kinders, van ’n geliefde, maar – en dit is vir hom die belangrikste – hy het lojaal teenoor homself gebly.
Tussen lojaliteit en dislojaliteit lê ’n hele wêreld, só beklemtoon hy. Kies lojaliteit. Verwerp dislojaliteit. En waar jy dislojaal was, gaan maak reg.

