Hy help hulle onlangs met ’n projek.
Kort daarna ontvang hy ’n e-pos vanaf die projekleier: “Ai toggie. Ek hoop nie meneer het seergekry toe meneer uit die hemel geval het nie.”
’n Mens kry inderdaad engelmense.
Mense met so ’n goeie hart dat jy soms wonder of hulle nie wel direk uit die hemel op jou lewenspad geland het nie.
Mense wat omgee. Mense wat uit hul pad sal gaan om ander mense te help.
Mense wat luister. Mense wat ondersteun.
“As daar meer dankies was, sou die wêreld ’n beter plek gewees het,” het iemand onlangs gesê.
Dit is waar. Dan moet daar darem ook iets wees om voor dankie te sê.
Soms help mense, maar ontvang selde ’n dankie. Indien ooit.
’n Mens help nie om ’n dankie te kry nie, maar ’n woord van waardering loop ’n ver pad.
Dit hoef nie ’n groot blyk van waardering te wees nie.
As die woord “dankie” opreg, op die regte tyd en vir die regte doel gebruik word, is dit ’n goeie ervaring vir die ontvanger daarvan.
Soos met hierdie projekleier, hoop ek ook dat die engelmense nie seerkry wanneer hulle uit die hemel val nie.
Hulle moet immers in ’n gesonde toestand wees om ons te help. Veronderstel hulle sou arms en bene met die val breek – wie gaan dan vir wie help?
Dankie aan die engelmense wat op so ’n manier uit die hemel val dat julle steeds kan help.


