’n Blitzkrieg van drie drieë binne nege minute het Griekwas gehelp om die Haaie Sondag (19/03) in Kimberley in hul kragmeting in die Curriebekerreeks te klop.
Die Poubloues was met 48 – 40 baas om hul eerste oorwinning in vanjaar se reeks te behaal. Die telling teen rustyd was 28 – 10 in die Haaie se guns, met min wat kon voorspel wat in die tweede helfte sou gebeur.
Met die spelers terug op die veld ná rustyd het Stephan Smit (flank), Luther Obi (vleuel) en Hanru Sirgel (plaasvervanger-losvoorspeler) almal in die bestek van nege minute gaan druk om die telling 31 – 28 in die Noord-Kapenaars se guns te maak. Griekwas se geheim ná rustyd was dat hulle meer besit gehad het, met meer vuur gespeel en die bal deur die hande laat gaan het – en hardlooprugby opgedis het.
Die tuisspan se skrumskakel, Johan Mulder, het met blitsige spel uitgeblink.
Vir Griekwas-ondersteuners was die eerste helfte frustrerend. Die tuisspan het in die lynstane gesukkel en ook kon die Poubloues by meer as een keer toe hulle slegs meters van die Haaie se doellyn was, nie gaan druk nie.
Dylan Richardson, flank van die Haaie, was ’n doring in Griekwas se vlees. Hy het op kritieke tye omgekeerde besit vir sy span verseker. Daar was egter in die eerste helfte ook foute aan die Haaie se kant.
Die skrumskakel Cameron Wright het op ’n keer die bal direk oor die kantlyn uitgeskop en die stut Hanro Jacobs is vroeg in die wedstryd vir ’n oortreding by ’n rolmaalbeweging met ’n geel kaart afgestuur.
Maar om teen rustyd reeds vier drieë vir ’n bonuspunt te gedruk het en die telling 28 – 10 in die Haaie se guns, sou Joey Mongalo, afrigter van die Haaie, tevrede gelaat het.
Min sou Mongalo geweet het wat in die tweede helfte op sy span wag. In die tweede helfte het Griekwas soos ’n ander span gelyk as die een wat in die eerste 40 minute gesukkel het. Mulder en die plaasvervangerhaker, Janco Uys, het laat in die stryd vir Griekwas gedruk.
- Puntemakers: Griekwas 48 (10): Drieë: Strafdrie, Stephan Smit, Luther Obi, Hanru Sirgel, Johan Mulder, Janco Uys. Doelskoppe: Lubabalo Dobela (5). Strafdoele: Dobela (2).
- Haaie 40 (28): Drieë: Francois Venter, Fez Mbatha, Cameron Wright, Yaw Penxe, Dylan Richardson (2). Doelskoppe: Fred Zeilinga (4), Lionel Cronjé. –



