Polisielede hou betogers uit Greenpoint van die N8-roete weg.

Foto: Helena Barnard

In Upington was die groep betogers vreedsaam, en teen Maandag (20/03) laatoggend het dit gelyk asof die optogte in dié dorp verby is.

’n EFF-plakkaat wat die redes vir sy nasionale #Shutdown verkondig.

’n Duidelike polisie- en weermagteenwoordigheid was Maandag (20/03) in Kimberley tydens die EFF se #Shutdown-betoging sigbaar.

“Amper soos in 2020, met die lockdown,” was vroegoggend die mening van ’n Noord-Kapenaar wat van ’n ander dorp na Kimberley vir ’n doktersafspraak gereis het.

Volgens hom was die paaie wat hy gebruik het stil, met geen versperrings.

Of dit weens die langnaweek of die betoging was – Kimberley se strate was veel stiller as normaalweg op ’n Maandag.

Tog was die meeste ondernemings se deure oop en by winkelsentrums was lede van die veiligheidsmagte, insluitend lede van sekuriteits­maatskappye, sigbaar.

By Greenpoint, ’n woonbuurt langs die N8 na Bloemfontein, het polisielede vroegoggend reeds brandende bande uit die weg geruim. Deur die oggend het polisielede, in die teenwoordigheid van die weermag, ’n groep betogers wat vanuit dié woonbuurt die N8 wou afsper, met rubberkoeëls op ’n afstand gehou.

Ook in Kakamas en Keimoes het sake soos normaalweg voortgegaan.

In Kakamas het ongeveer 20 betogers by die verkeersligkruising byeengekom, sonder voorvalle.

In Upington was die aantal polisielede glo meer as die betogers, en was die betogers in die middedorp rustig en vreedsaam, soos ook berig oor betogers in die meeste ander dorpe.

Teen Maandag vroegmiddag het die eienaar van ’n onderneming in Kathu gesê “alles is stil en kalm”.

In Postmasburg was in die vroeë oggendure enkele klein voorvalle waar bande gebrand is. Die brande is vinnig geblus.

’n Inwoner van Postmasburg, soos ook ’n inwoner van Upington, prys die polisie en lede van sekuriteits­maatskappye – ook dié van die myne – dat hulle “goed gerat” was, voorbereid voorgekom het en ’n hoë sigbaarheid gehandhaaf het.

“Die polisie in Postmasburg het positief en flink opgetree. Daar was ’n gemoedelikheid onder hulle en almal was netjies in hul uniforms geklee,” sê die inwoner.

Weens die vakansiedag Dinsdag was NoordkaapBulletin se tyd vir ter perse gaan reeds Maandagmiddag, en daarom is nie berig oor gebeure ná die spertyd nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article