Na raming gaan 70 miljoen liter vars en drinkbare water daagliks in Suid-Afrika verlore weens waterlekplekke.
Hoewel Suid-Afrika as ’n waterskaars land beskou word, en as die 30ste droogste land ter wêreld, word op waterwysheid nie veel ag geslaan nie.
Met Nasionale Waterweek, vandeesweek van 20 tot 26 Maart, en Wêreldwaterdag op 22 Maart, kry ’n mens so ’n slukkie of twee statistiek oor die vermorsing van water in, met enkele vermanings. Dit is egter soos water van ’n eend se rug.
Geen Noord-Kapenaar hoef verder as sy eie dorp te kyk om tekens van lekplekke en tekorte te kry nie.
’n Mens kry die beeld van owerhede en inwoners wat soos Jack en Jill bult-op en bult-af huppel met ’n stukkende emmer tussen hulle om die probleem op te los en water te gaan skep.
Is dit nie die owerhede wat nalaat om infrastruktuur op te knap, te herstel of vernuwe nie, is dit inwoners wat infrastruktuur vandaliseer om die waterlekplekke of -tekorte mee te bring, en ander wat nalaat om die sondaars uit te wys.
Kimberley, as die hoofstad van die provinsie, stel nie ’n voorbeeld aan sy dorpe oor hoe om waterkrisisse te hanteer nie.
Ongeag vele daelange “water shutdowns” om die watervoorsieningsprobleme op te los, is daar reeds gerugte van ’n volgende water-afsluiting.
Op die punt van droë krane: ’n Goeie vermaning sou wees om waterbottels en -houers wat meer as een maal gebruik word aan te skaf. Doen weg met die aankoop van plastiekbotteltjies water – saam met weggooibabadoeke is dit twee produkte wat ’n reuse-aandeel in besoedeling het.
In sy onlangse provinsiale rede het die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, gesê die Nasionale Tesourier het R1,9 biljoen aan die Sol Plaatje-munisipaliteit toegewys om sy grootmaatwaterinfrastruktuur oor die volgende drie boekjare te verbeter. Of hierdie projek net water in die see indra gaan wees, sal net die tyd leer.


