Die meeste mense is dankbaar vir die beroep wat hulle beoefen en werk wat hulle mag uitleef.

Bo en behalwe dat dit ’n mens van ’n wyse voorsien om ’n bestaan te maak, is daar baie ander voordele wat dit inhou.

Jy ontmoet nuwe mense. Jy leer nuwe dinge. Jy oefen om uitdagings te bowe te kom. Jy leer sekere situasies hanteer. Dit voel of jy ’n spesifieke doel het.

Gesels jy in die algemeen met mense oor hul werk, het hulle een ding in gemeen: Hulle geniet die werk self, maar nie noodwendig dit wat daarmee gepaardgaan nie.

Kantoorpolitiek. Die een wat lieg en opstook en wrintiewaar deur die baas geglo word. Feitlik onmoontlike verwagtinge wat gestel word. Tandekners-sperdatums.

Veronderstel mense sou net in vrede gelaat word om hul werk na die beste van hul vermoë te doen. Sonder kantoorpolitiek. Sonder die opstoker. Met meer redelike verwagtinge en haalbare sperdatums. Vir die meeste mense sou dit heerlik wees om werk toe te gaan.

Uiteindelik is daar iets wat elkeen gaan mis wanneer hulle by ’n werkgewer weggaan.

Sommige mense mis die personeel of van die personeel. Ander mense mis die spesifieke kantooromgewing. Dalk gaan hulle vir ’n kleiner salaris werk en gaan die groter salaris gemis word. Uiteindelik is daar dinge wat ’n mens gaan mis en beslis nie gaan mis nie wanneer jy jou pos by ’n werkgewer opsê.

Wat gaan jy van jou pos mis wanneer jy daar weggaan?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article