Lede van die opvoeding-en-kultuurgroep van die Vrouelandbou­vereniging (VLV) se Kuruman-tak is van links Elsabé Hennig, Joey Botha, Karin van der Walt (sameroeper) en Babs Oertel.

Foto: Verskaf

Lede van die opvoeding-en-kultuurgroep van die Vrouelandbou­vereniging (VLV) se Kuruman-tak is van links Elsabé Hennig, Joey Botha, Karin van der Walt (sameroeper) en Babs Oertel.

Andrew Brundyn, Afrikaanse vakadviseur, was die gasspreker op die onlangse byeenkoms van die Vrouelandbou­vereniging (VLV) se Kuruman-tak.

Die geleentheid is deur die opvoeding-en-kultuurgroep aangebied.

Brundyn het onder meer die Afrikaanse Onderwys­netwerk (AON) aan die VLV-lede bekend gestel.

Die fokus van dié organisasie is die instandhouding, groei en ondersteuning van gehalte- Afrikaanse moedertaal­onderwys in Suid-Afrika, en dit bied bekwame en toeganklike ondersteuning aan skole, onderwysers en onderwysinstellings.

Brundyn het kopieë van twee boeke, Van Afrikaans gepraatdeur Christo van Rensburg en God praat Afrikaansvan HemelBesem (Simon Witbooi), na die geleentheid by die El Gibbor Kalahari Biker’s Church saamgebring, en elke VLV-lid kon van die boeke neem.

Hy het aan die lede vertel dat die AON nasionaal bedrywig is, en betrokke is by enige instelling waar Afrikaans gepraat en geleer word.

Van die organisasie se vennote is die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), die Suid-Afrikaanse Onderwysers­unie (SAOU), die Skole­ondersteuningsentrum (SOS), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en Woorde Open Wêrelde (Wow).

Belangstellendes kan aonetwerk.co.za besoek vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article