Lede van AfriForum se Kimberley-buurtwag het die afgelope maand verskeie opleidingsessies bygewoon wat vir onder meer buurtwag-, inligtingspan-, operasiespan- en steunspanleiers aangebied is.
Alwyn Swart, Gerhard Schoeman (albei buurtwagleiers), Mizanne Fritz, Marius Nagel (as inligtingspanleiers), Jannie Engelbrecht (protospanlid) en Joey Schoeman (steunspanleier) het die onderskeie kursusse suksesvol voltooi en gaan voortaan in die bestuur van die organisasie se Kimberley-buurtwag dien.
Henko Visser, voorsitter van die Kimberley-buurtwag, bedank elkeen vir sy bereidwilligheid om ’n verskil te maak.
“Ons is baie trots op ons buurtwaglede wat hulself beskikbaar stel om hul gemeenskap op ’n onbaatsugtige manier te dien,” sê Lize-Mari van der Linden, distrikskoördineerder vir die Karoo.
“Ons sal voortgaan om te verseker dat lede gehalte-opleiding ontvang om so effektief moontlik werksaam te wees.”
Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by die beveiliging van hul gemeenskap betrokke te raak en om hulle met die oog hierop by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit.




