Die Rooy-span moes huis oppak. Pastoriestraat 12 is verruil vir ’n ander pastorie in ’n voorstad waar Rooy-mamma aanvanklik nie eens haar voete wou sit nie.
Haar vooropgestelde beeld van die dorp ter sprake was net ’n plek vol stof en sand, en lukrake geraamtes van hemelhoë, geroeste myntoerusting. Droewig en droog.
Genadiglik het haar nuuskierigheid die oorhand gekry en het sy besluit om haar stereotipiese gedagtes uit te daag. Ná een besoek was sy verlief op die dorp se mense en sy boomrykheid.
’n Maand later het die Rooy-span se huistyd uit “weggooi of inpak?”, drank- en Pep-bokse en rolle en rolle kleefband bestaan. Rooy-dominee was opnuut verbaas oor die hoeveelheid drank wat die dorpsmense afsluk. Tog was Mamma dankbaar vir elke Johnnie Walker- en Stella Artois-boks.
Ná ’n misverstand en ’n aand se noodgedwonge uitkampeer in die “ou huis”, het die lorries vroeg die volgende oggend by die huis parkeer. Die huisinhoud was een en ’n halwe vrag.
Die Rooyes het met hul uittog hul tuiste van ses jaar van gat tot gat gegroet. Die nuwe huis was met aankoms vol blomme, kruideniersware en mense.
’n Verwelkomingskomitee het die Rooy-span ingewag.
Kort voor donker hang die slaapkamers se gordyne rofweg en elkeen het ’n kooiplek.
Laataand, tussen stapels toegeplakte bokse, dank sy die Here vir die gesin se nuwe tuiste – selfs al ry ’n mens die dorp mynhope langs in.

