’n Optrede in Warrenton deur die kunstenaar Manie Jackson wat Saterdag (01/04) sou plaasvind, is op kort kennisgewing kanselleer ná beweerde dreigemente.
Jackson se optrede sou ten bate van waterverskaffing aan inwoners wees wat reeds sedert die einde Februarie sonder water klaarkom.
Die kunstenaar, asook gehoorlede, sou glo “die gevolge moes dra” indien die vertoning voortgaan. Dié boodskap is direk aan ’n organiseerder deur twee onbekende mans by sy huis oorgedra. Ná beraadslaging met die polisie is besluit om die vertoning uit te stel.
Inwoners van Warrenton-dorp, Warrenvale en Ikhutseng is reeds ses weke lank sonder water nadat ’n toevoerpyp uit die Vaalrivier – wat deur die dorp strek – in die vloed gebreek en weggespoel het.
Voorstelle uit die gemeenskap en instellings buite die dorp om die raad met die herstel van die watertoevoer te ondersteun, is glo ignoreer. Dinsdagoggend (04/04) het inwoners ’n skrywe van die raad ontvang waarin hulle ingelig is dat die munisipaliteit nie daarin belang stel om saam met hulle om ’n tafel te sit om die situasie te beredder nie.
’n Versoek is gerig dat individue, soos Burre Burger, en organisasies wat met waterverskaffing kan help, tot die redding van Warrenton-inwoners moet kom. Teen druktyd het die waarnemende munisipale bestuurder nog nie op medianavrae reageer nie.





