Die afgelope week kry ek ’n boodskap van iemand wat lui dat as iets ’n mens se vrede kos, is dit te duur.
Dit sit my gedagtes aan die gang oor wanneer ’n mens nou werklik vrede het.
Wat is dit wat vir ’n mens vrede bring?
En hoekom is so baie mense hul lewe lank op soek na vrede?
Waarom is party mense net lewenslank rusteloos?
Is dit nie opmerklik hoe party mense kan vrede bring wanneer hulle in ’n geselskap inkom – terwyl ander die atmosfeer van vrede kom ontneem nie?
Hoe meer ek daaroor nadink, hoe meer besef ek dat ’n mens in jouself nie sommer net vrede vind nie.
Vrede is iets wat straal uit hulle wat dit het.
By hulle wat dit kort, kan dit nie gekoop word nie en nie voor gewerk word nie en nie met goeie vermoëns net geskep word nie.
Vrede is werklik kosbaar, duur en nie iets waarmee ’n mens ligtelik moet omgaan nie.
’n Mens moet ook nie ander mense van hul vrede ontneem nie.
En ’n mens moet vredemaker wees op elke terrein van die lewe.
Ons leer mos, geseënd is die vredemakers.
Daarom is hierdie pas afgelope Paasnaweek nie iets waarmee ’n mens moet ligtelik omgaan nie.
Paasnaweek, vir dié wat die betekenis daarvan verstaan, bring ’n vrede wat verstand te bowe gaan.
Groter vrede as waarvoor ’n mens kan werk en vrede wat klaar betaal is.
Vrede wat duur gekoop is.
Daarom, in hierdie tyd, mag jy vrede beleef wat verstand te bowe gaan.

