Die skenking van boeke vir die pediatriese onkologiesaal by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley word gretig ingewag.
Kinders van oor die hele Noord-Kaap, van so jonk soos enkele maande tot tieners van ongeveer 17 jaar, moet weens hul siektetoestand soms lang dae, weke en selfs maande in dié saal in die hospitaal deurbring.
Dele van dié saal is in 2021 deur die Reach for a Dream Foundation opgeknap en vervrolik met kleur en voorwerpe, asook speelgoed. Twee boekrakke, elk ’n kameelperdsilhoeët, bly egter leeg.
“Hoewel ons voorheen enkele boeke ontvang het, neem van die kinders die boeke huis toe wanneer hulle ontslaan word. Dit is in orde, want soms is die boek iets waaraan die kind waarde heg,” vertel dr. Liezl du Plessis, pediatriese onkoloog.
Die deurlopende skenking van boeke sal ideaal wees. Dit hoef nie nuut te wees nie, maar wel in ’n bruikbare en leesbare toestand.
Boeke vir seuns en meisies, babas tot tieners, sal verwelkom word. Dit kan in Afrikaans, Engels en Tswana geskryf wees. Soms is van die ouers, wat ure daar deurbring, op soek na leesstof. Die lees van tydskrifte sal help om hul ure van wag te vul.
Mense of instellings wat boeke kan skenk, kan dit by die A5- pediatriese onkologiesaal aflewer, of reëlings tref met Keitumetse Malefandleleni, ’n program-assistent van die Childhood Cancer Foundation (CHOC), deur 073-919-4526 te skakel.





