Klim hoë berge. Hardloop ultramarathons. Doen uithouwedrenne. Haal moeilike sperdatums. Verloor oortollige gewig. Verander die haas onmoontlike in die moontlike.
Daar is mense wat glo dat wanneer iemand iets bereik, dit vir daardie mens relatief maklik was.
Die geheim lê daarin dat die mense wat bogenoemde bereik, dit relatief maklik laat vertoon.
Die gebeure agter die skerms word deur slapelose nagte, eindelose beplanning, genadelose oefening, uitmergelende opoffering, ongekende harde werk en toewyding gekenmerk. Op die oog af word dié dinge op die agtergrond geskuif.
Teen die tyd dat die bergpiek bereik word, die eindstreep oorgesteek word of die meedoënlose sperdatums gehaal is, lyk dit inderdaad vir buitestanders maklik. Hulle glo: As hulle ook die talent of geleentheid gehad het, sou hulle dieselfde kon bereik – sou hulle wou.
Dit is eers wanneer self aan so ’n doelwit gewerk word dat mense se uitkyk teenoor ’n besonderse prestasie verander. Hulle ervaar dan dat dit nie so eenvoudig is nie.
Dan ontstaan daar gewoonlik een van twee reaksies: óf die ander mens se doelwit was makliker bereikbaar; óf die ander mens besit besonderse eienskappe of hulpmiddels wat die gemiddelde persoon nie besit nie.
Besonderse prestasies kry selde die erkenning wat dit verdien. Dit hoef slegs iets so algemeen soos ’n werksprestasie te wees.
Dankie aan diegene wat besonderse prestasies maklik laat lyk. Dankie aan diegene wat besef wat werklik agter hierdie prestasies skuil.


