Om met oorgawe te beleef en ervaar is seker een van die mooi eienskappe van menswees. ’n Gawe om te kan voel en te kan beleef.

Passie kan natuurlik, soos die meeste goed rondom ons, positief of negatief wees. ’n Mens kan passievol wees met die negatiewe en dit kan jou vernietig. ’n Mens kan ook passievol wees met die positiewe en dit kan jou vul, verryk en motiveer.

Daarom is dit so wonderlik wanneer iemand passievol leef, positief is en op só ’n wyse ’n verskil maak.

Die teenoorgestelde is ook waar. Vir iemand met ’n gebrek aan passie wat sy of haar roeping leef, verhoudings hanteer, daaglikse werk doen en wat ook al, is dit ongelooflik frustrerend.

’n Mens kan iemand baie opleiding gee, jy kan baie goeie ontwikkeling doen en jy kan goeie opvoeding byvoeg, maar passie kan jy nie vir iemand aanleer nie.

“Kry bietjie wip in jou,” sou die ou ooms op die plaas die jong manne leer.

Daarom is dit wonderlik wanneer ’n mens se lewenspad kruis met dié van mense wat passievol leef in positiewe dinge. Daarom is dit seer wanneer ’n mens se lewenspad kruis met mense wat passievol droogmaak.

Daarom is dit ook nie so vanselfsprekend om te dink dat almal wat moed en krag en energie en passie vir ’n saak het, dit noodwendig positief gaan gebruik nie.

Dit laat my dink aan ou tannie Meisie Mens daar in my grootword-dorp. Sy het graag gesê: “Doen voluit, maar as jy voluit doen, doen die regte ding voluit.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article