Die Wildeklawer-skolesportakademie in Barkly-Wes, wat al meer as tien jaar bestaan, het reeds etlike rugbysterre opgelewer – waarvan sommiges nou professioneel aan rugby deelneem.
Die Wildeklawer-akademie se rugbyspanne het verlede week saam met die sokker- en netbalspanne aan die uitnodigingsreeks vir Noord-Kaapse skole in die o.13- en o.19- afdeling deelgeneem en “goed gevaar”.
Die akademie is deur Louis en Cora de Kock, eienaars van die Wildeklawer-landgoed buite Barkly-Wes, gestig om kinders se toekomsvooruitsigte deur sport te verbeter.
Aneka Fick, sportorganiseerder, en Jannie van Niekerk rig die rugbyspanne af. Fick is ook by sokker- en netbalafrigting betrokke.
“Ons o.19-rugbyspan het ongelukkig die eerste wedstryd met 10 – 12 teen die Hoërskool Postmasburg verloor, terwyl ons hulle laasjaar gewen het. Ons dissipline moet verbeter, want dit het ons in die steek gelaat.”
Die komende naweek speel hulle weer in die Griekwaland-Wes-hoërskoleliga teen die Hoërskool Hartswater.
Chad Cloete en Jona Titus is belowende spelers wat volgende naweek in die Griekwas-proewe gaan speel.
“Chad het eers laas jaar begin rugby speel. Hy het hard gewerk om te kom waar hy is. Jono was altyd ’n sterk speler wat hard werk om sy vaardighede op te skerp.
“Rugby het ons kinders geleenthede gegee om groter rugby te speel. Geen skool in Barkly-Wes bied enige naskoolse sportaktiwiteite aan nie. Ons wys geen speler weg nie.
“Al meer seuns speel rugby, want sokker was altyd die gewildste.
“Die spelers se selfvertroue en akademiese prestasie verbeter beslis wanneer hulle sport beoefen. Ons het seuns gehad wat op skool gesukkel het, maar hul punte het danksy sport verbeter. Rugby dwing dissipline af. Dit bou ook vriendskapbande. Die span speel vir mekaar.”
Beairon Beukes (17) het hom vier jaar gelede as ’n jong tiener by die klub aangesluit.
“Dit was die enigste plek waar ons sport kon beoefen. Rugby het baie deure vir my oopgemaak. Ek het verlede jaar Griekwas-proewe gespeel en ingekom en toe in die liga gespeel.
“Dit was ’n lekker toernooi, al het ons die een wedstryd op die sopnat veld verloor. Ons koppe was hoog en die blink kant bo.”
Sy gunsteling posisie is losskakel, hoewel hy nou op stut en flank speel.
“Ek wil graag vir ons land rugby speel, anders vir ’n groot rugbyklub. Ek wil eendag my eie sekuriteitsmaatskappy stig. Rugby leer my dissipline en respek, ek speel die beste game vir die ondersteuners.”
Averon Osch (18), ’n stut, sê rugby leer dissipline en “hoe om met mense te werk wat ek nie ken nie, soos om teen ander spanne te speel.”
Hy wil ’n professionele rugbyspeler word, maar gaan volgende jaar begin met sy studie om ’n ketelmaker te word.


