Ek het onlangs die voorreg gehad om aan die Vasbyt-wedloop deel te neem.
’n Afstand van 100 km oor vier dae – hoewel dit redelik maklik haalbaar is, daag dit ’n mens tog uit en toets dit ’n mens.
Vasbyt in die lewe is eintlik ook maar deel van ons. Daar is nie ’n mens wat nie groot dele of bepaalde fases van sy of haar lewe beleef waarin vasbyt besonder nodig is nie.
Dit is eintlik so ’n mooi uitdrukking: Byt vas.
Terwyl ek met 2023 se Vasbyt besig is, besef ek dit is tyd vir ons weeklikse Twyfelhoekie, en ek kan net sowel ’n paar van my vasbyt-gedagtes met lesers deel.
Die eerste ding wat my opval, is hoe maklik ’n mens – wanneer dit ’n bietjie swaarder begin gaan en die energie minder word – die mooi om ’n mens laat verbygaan.
Die sonsopkoms is steeds mooi, asook die rivier en die verandering van seisoene.
Die tweede ding wat my in die besonder opval, is hoe ’n mens, wanneer ’n mens soms ver vooruit kyk, net opdraandes sien.
Die een ná die ander.
Dan is dit nogal wys om net tree vir tree te beweeg daar waar jy is.
Vergeet die opdraande wat ver is. Loop tree vir tree van waar jy is.
Die derde gedagte is dat ’n mens nooit alleen is nie. Daar is altyd ander saam met jou op die pad.
Soms voel jy kilometers en kilometers aaneen alleen, maar daar is altyd ander saam op pad.
Gelukkig.
Daarom: Vasbyt, tot die einde!

