Die ATKV-Applous-skolekoorkompetisie vind eersdaags in verskillende streke oor die land heen plaas.

Foto: Facebook/ATKV

Die streeksuitdunne van vanjaar se ATKV-Applous-koorkompetisie vind Dinsdag (09/05) in Kimberley plaas.

’n Rekordgetal van 225 kore het vanjaar vir die onderskeie streeksuitdunne, wat tot 2 Junie duur, ingeskryf. Dit is 41 meer kore as in 2022, en meer as 16 000 koorlede.

In Kimberley begin die streeksuitdunne vir junior kore om 15:30 by die Laerskool Newton in die stad, met die uitdunne vir hoërskoolkore wat om 17:30 begin.

Lede van die publiek is welkom om die uitdunne by te woon en kan toegangskaartjies by die deure koop.

ATKV-Applous is die oudste skoolkoorkompetisie in die land wat sang na gehore bring en Afrikaans ’n hupstoot gee.

In ander dele van die land is die streeksuitdunne soos volg:

Op 8 Mei begin die streeksuitdunne in Bloemfontein, met Kimberley en Potchefstroom die dag daarna.

In Randburg, Middelburg en Nelspruit sing kore op onderskeidelik 10, 11 en 12 Mei.

Streeksuitdunne vind op 15 Mei in Polokwane plaas, op 16 Mei in Rustenburg, en van 18 tot 20 Mei in Pretoria.

Op 22 Mei is Oos-Londen en Newcastle aan die beurt, op 24 Mei Empangeni en Ballito, en van 25 tot 27 Mei is die Wes-Kaapse streeksuitdunne aan die beurt.

Uitenhage en Pietermaritzburg kry ’n geleentheid op 23 Mei.

Op 2 Junie word die streeksuitdunne in Namibië voltooi.

Die kriteria van beoordeling tydens die uitdunne is vertolking, intonasie, die klank van die koor, tegniese aspekte en artistieke geheelindruk. Die twee tot vier beoordelaars by elke streeksfees is kundiges in die beoordeling van koormusiek.

Die eindrondes word in die laaste week van Julie in Pretoria aangebied, waarna die beste kore in die verskillende kategorieë aangewys sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article