Boeke maak wêrelde oop, tog lees mense te min om beter te verstaan.

Foto: Unsplash/Aaron Burden

Wie nie lees nie, sal nie weet nie. Wie nie weet nie, sal nie doen nie.

Lees maak wêrelde oop. Ons weet dat onder andere die Sumeriërs in die Midde-Ooste begin het om te skryf, hoofsaaklik om by te hou met handelstransaksies.

Later het skrif ontwikkel om meer as net ’n ekonomiese doel te dien. Verhale en idees is op skrif gestel om dit vir die nageslag te bewaar. Voor die koms van skrif is verhale mondelings oorgedra en dit het met groot noukeurigheid plaasgevind.

Met die koms van skrif het dit moontlik geword om ou en nuwe stories in kleitablette en later ook op papirus neer te pen.

Skrif het die draer van verhale en inligting geword. Skrywers het mettertyd die storievertellers se plek ingeneem.

Om die verhale te lees was een saak, maar ook om dit te interpreteer en te verstaan in jou eie konteks het belangrik geword.

Skryf en herskryf het deel van die lewe geword, maar ook so lees en herlees. Mense het gelees om te verstaan. Om die verlede te verstaan en ook die hede te verstaan. Dit was lees met ’n kritiese ingesteldheid.

Lees met vrae

Dit laat jou dink. Hierdie lees om te verstaan is deesdae in die gedrang. Die redes hou verband met dit wat geskryf word. Almal wat ’n rekenaar en slimfoon het, skryf.

Almal meld wat hulle dink en voel en wat hulle klakkeloos by ander oorneem. En soos wat die wêreld oorspoel word met skrywes, so lees mense, maar dit help nie altyd om dinge beter te verstaan nie en ook nie om rigting te gee nie.

Lees ons genoeg?

Benewens die lees van nuusberigte is daar ’n groot verskeidenheid van boeke. Boeke wat jou kan meevoer en nuwe wêrelde laat beleef. Boeke vir ontspanning. Maar daar is ook boeke wat jou laat nadink en dinge laat herdink. Skrywers wat hul gedagtes en idees in boekvorm met jou deel en jou as’t ware uitnooi tot ’n gesprek en om te dink.

Maar lees ons nog genoeg? Lees ons nog om te verstaan? Hier waar ek in Zambië klasgee, beleef ek dat daar nie veel van ’n leeskultuur onder studente bestaan nie. Dit klop ook met my ervaring van Suid-Afrikaanse studente. Studente lees om eksamens te slaag en nie noodwendig om te verstaan nie. Net soos baie van ons ook maar gedoen het in die verlede.

Boeke wat beïndruk

Tog was dit boeke wat wêrelde vir my oopgemaak het. Daar is te veel om op te noem, maar ek wil tog ’n paar uitsonder. Op hoërskool in die 1970’s is Karel Schoeman se By fakkellig vir ons voorgeskryf. Die verhaal wat in Ierland afspeel het in Afrikaans met my gepraat en my ons eie situasie in ’n ander lig laat sien sonder dat ek woorde gehad het om dit goed te kon beskryf.

Op universiteit was dit die werke van filosowe en antropoloë wat my wêreld verbreed het.

Deur die jare het die Bybel en teologiese werke my verryk, maar dit was ook gewone letterkunde wat my diep geraak het. Die verhaal van The Old Man and the Sea van Ernest Hemingway het tot my gespreek, as iemand wat by die see grootgeword het en lief is vir visvang, maar ook omdat dit my laat besef hoe belangrik dit is om jou lewensdroom te bereik al het jy nie veel om daarna te wys nie.

Les Misérables van Victor-Marie Hugo sal my altyd bybly en hoop gee dat ’n individu tog ’n verskil kan maak in ander se lewe as hy ’n kans gegee word. Die swerfjare van Poppie Nongena van Elsa Joubert het my van onskuld as Suid Afrikaner bevry terwyl Daleen Matthee se boeke my eie grootword- en leefwêreld oopgeskryf het.

Om nuut te kyk

Hierdie is so ’n klein kykie na hoe dit wat geskryf is en wat ek kon lees, my wêreld onherroeplik verander het. Ek is dankbaar vir elke skrywer wat my lewe kon verryk.

Ek lees steeds, en voel soms dat ek te veel onnodige goed op sosiale media lees. Ander kere voel ek dat ek te min lees, veral boeke wat saak maak. Boeke wat my nuut laat kyk na myself en die wêreld.

Ek hoop ons as Suid-Afrikaners kry weer ’n leeskultuur en ons lees om beter te verstaan.

– Dr. Dawid Kuyler is ’n leraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die artikel het op Netwerk24 verskyn. Verkort

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article