’n Lid van die Valke word in hegtenis geneem.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

’n Kaptein van die Valke in Kathu, ’n polisiesersant van Kuruman en ’n sogenaamde informant is Donderdag (04/05) deur lede van die Valke op klagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling in hegtenis geneem.

Die 41-jarige kaptein van die Valke het in Upington gewerk toe sy kollegas van Kimberley hom in hegtenis geneem het, sê lt. kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.

Die inhegtenisneming kom nadat die kaptein glo in 2021 ’n eis van R100 000 ingedien het en dit as beloning vir ’n informant aanbeveel het, sê Thebe.

Die polisie se eisekomitee het ’n betaling van R80 000 vir die polisie-informant goedgekeur. Die verdagte het glo versuim om die volle R80 000 aan die informant te betaal. Hy het hom glo R5 000 betaal en nog R5 000 aan ’n sersant van die Kuruman-polisiekantoor. Die kaptein het glo R70 000 vir homself gehou.

“Die 42-jarige sersant is medepligtig en is saam met die hoofbeskuldigde aangekla,” sê Thebe.

Die 37-jarige informant, wat na bewering deur die sersant gewerf is, is ook van regsverydeling aangekla. Die drie sou eersdaags in die hof verskyn het.

Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article