Die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington kan met strafregtelike klagte te kampe hê indien hy nie dringend ingryp met betrekking tot die riool wat reeds meer as vier jaar direk in die Oranjerivier invloei nie.
Die voortdurende rioolstorting besoedel die Oranjerivier, ’n sleutelwaterbron vir die Noord-Kaap.
Dit hou boonop ’n ernstige gesondheids- en omgewingsbedreiging in, en benadeel toerisme en landbou-aktiwiteite.
Erica Strauss, DA-raadslid, sê die stank raak sakehandel, het ’n negatiewe invloed op gastehuisbesprekings langs die rivier, asook op dagbesoekers wat onder meer wil hengel.
Volgens Strauss het lede van die party reeds in Augustus verlede jaar die direkteur van siviele dienste op drie geleenthede na die lekkasies geneem, en die munisipale bestuurder een maal.
Toe is gesê dat die saak “binnekort” opgelos sou wees.
- ’n Verlate en bouvallige huis in Hartswater, wat ’n ou polisiehuis is en aan die departement van openbare werke behoort, word glo as ’n dwelmhuis gebruik.
Boonop is die eiendom so vervalle dat dit die eiendomswaarde in die omgewing benadeel en mense se veiligheid bedreig. Voetgangers word geïntimideer en gesteelde ware word na bewering daar versteek.
Theo Joubert, VF Plus-raadslid, sê die party het ná talle klagtes van die inwoners ’n griefskrif saamgestel en aan die polisie oorhandig. Hierin word aangedring dat die polisie dadelik moet intree om die dwelm- en misdaadnes skoon te maak, en te verhoed dat dit weer daarvoor gebruik word.
Die Phokwane-munisipaliteit het ook nog nie ’n dwelm-aksiekomitee begin, soos deur wetgewing bepaal nie, sê Joubert.




