As ’n ligte ete of teetydversnapering is ’n mini-quiche die ideale pasmaat. Probeer hierdie resep wat binne ’n kort tydjie in ’n lugbraaier gemaak word.
Dié resep is suksesvol deur die Kimberley-tak van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland (VLVK) getoets.
Lo-Ami Koekemoer, voorsitter van die tak, sê Lizel Smith, wie se ma, Sonja Greyling, ’n lid van die tak is, het hierdie resep na aanleiding van ’n vorige lugbraaierresep aangepas en ontwikkel.
Kors
- 250 ml meel
- 2,5 ml bakpoeier
- 5 ml strooisuiker
- 2,5 ml sout
- 50 ml olie
- 80 ml kookwater
Metode
Meng die bestanddele saam tot ’n sagte deeg. Deel dit in vier gelyke dele. Rol dit uit en druk in pannetjies. Steek gaatjies in die deeg met ’n vurk.
Bak in die lugbraaier teen 190° C vir vyf minute.
Vulsel
- 1 ui, gekerf
- 1 bondel spinasie, gekerf
- 250 g sampioene
- fetakaas, verkrummel
- 350 ml melk
- 3 eiers
- 1 pakkie cup-a-soup, sampioengeur
- Sout en peper na smaak
- Cheddarkaas (gerasper)
Metode
Braai die ui, spinasie en sampioene saam. Meng die feta in sodra die mengsel begin afkoel.
Skep die vulsel in die kors tot dit ¾ vol is.
Klits die melk, eiers, sopmengsel, sout en peper saam.
Gooi die melkmengsel oor die vulsel wat in die kors geskep is.
Strooi die kaas oor.
Bak in die lugbraaier teen 190° C vir 15 minute.


