Dat “basies niks” in Warrenton aangaan om die waterkrisis van meer as drie maande in die Noord-Kaapse dorp reg langs die Vaalrivier op te los nie, is die grootste besef waartoe Marie Sukers, ACDP-LP in die Nasionale Vergadering, tydens haar onaangekondigde oorsigbesoek op Woensdag 24 Mei gekom het.
Sukers is deur gemeenskapslede om hulp genader en haar besoek aan die wateraanleg, asook aan die konstruksiewerk van ’n “dringende en spoedige oplossing” om water tydelik aan inwoners te verskaf, het talle raadslede van die Magareng-munisipaliteit onkant betrap en humeure laat opvlam.
Die nagenoeg 25 000 inwoners van Warrenton-dorp, Warrenvale en Ikhutseng is reeds sedert einde Februarie sonder lopende water nadat ongeveer 30 m van die 500 mm-hoofwatertoevoerpyp in die Vaalrivier tydens die vloed beskadig is.
Sedertdien is na bewering reeds meer as R5,5 miljoen bestee om die watertoevoer “tydelik” en ook “permanent en meer volhoubaar” te herstel. Dié geld is deur Cogsta toegestaan.
Die tydelike plan wat volgens die munisipaliteit vroeg in Mei voltooi sou wees, is steeds nie afgehandel nie, en inwoners twyfel oor die volhoubaarheid van die permanente plan en of dit enigsins binne die beloofde vier maande voltooi sal word.
Met die uitbreek van cholera in onder meer Parys in die Vrystaat, waarlangs die Vaalrivier strek, is inwoners boonop bekommerd oor die suiwerheid en gehalte van die water wat sporadies deur watertenkers aan hulle verskaf word. Die water word glo nie behoorlik by die wateraanleg filtreer nie.
“Daar prosesse is nou ge-bypass. Ek sal reken ons kry net so 30% gesuiwerde water,” sê ’n gemeenskapsleier.
‘Hulle koop hulle dood’
Wag vir die watertenkwaens is iets wat inwoners teen nou goed ken, want soms moet hulle tot drie weke wag voor een in hul buurt aandoen terwyl sekere inwoners voorkeur kry. Boonop moet hulle gereeld hoor dat dié voertuie “stukkend” is.
“Dit gaan alles oor wie is wie, en wie werk waar,” vertel ’n inwoner van Ikhutseng wat sê dat familielede en vriende van munisipale amptenare voorkeur met watervoorsiening kry.
“Ons het dit al telkens onder die burgemeester en raadslede se aandag gebring, maar hulle sleep net voete,” sê hy.
’n Bejaarde inwoner vertel dat sy skaars R5 ekstra het om water te koop, en wanneer sy wel ’n paar rand ekstra het, moet sy ander boonop betaal om vir haar water by die naaste winkel te koop omdat sy nie die houer self kan dra nie. En met R5 se water kom jy nie ver nie.
Inwoners van Warrenvale en Ikhutseng word hierdeur genoodsaak om die besige N12 te kruis na hetsy ’n naaste boorgat of die Vaalrivier. Weens die uitgestrektheid van die woonbuurtes moet van hulle etlike kilometer per voet aflê.
“Wanneer jy water in die rivier gaan skep, moet jy nog met die kleintjies ook loop,” sê ’n ma van kleuters. ’n Paar weke gelede is ’n ouma en haar kleinkind op die N12 raakgery toe hulle op pad was om water te gaan haal.
Diegene wat wel vervoer het, kan water by die aanleg aan die anderkant van die dorp, en oorkant die rivier gaan haal. Daarvoor moet hulle die N12 en die N18 kruis, en ook ’n slegte stuk grondpad ry.
Nog ’n inwoner vertel dat sy en haar seun albei velkanker het en die son moet vermy. Hulle moet egter gereeld ver ente in die son stap om water te kry. Haar man is verlam in die een arm en kan nie die waterkanne help dra nie.
’n Ander een vertel dat haar kinders maagaandoenings kry van die water wat deur die watertenkwaens aangery word, en dat haar vel daarvan begin afskilfer. Inwoners is dit eens dat die water soms erg na huishoudelike ontsmettingsmiddel ruik en proe.
“Soms word die mense wat so lank vir water wag, met kospakkies gepaai. Net soos wat hulle voor volgende jaar se verkiesing met kospakkies en T-hemde gepaai gaan word,” sê ’n inwoner van Ikhutseng. Hy sê die vloed het ’n nuwe waterkrisis na Warrenton gebring, maar voor dit was die waterverskaffingsituasie in die dorp ook beroerd.
‘Oplossings’ staan steeds stil
“Waar is al die miljoene wat hier geplant is,” het Sukers Woensdag tydens haar oorsiginspeksie gevra en bygevoeg dat volgens wat sy hoor, die Magareng-munisipaliteit nog geld aangevra het.
Die kontrakteur wat vir die “dringende en spoedige” herstel van die tydelike plan vir watervoorsiening aangestel is, het glo verlede week weens nie-betaling onttrek. Die munisipaliteit wou dit nie bevestig of ontken nie.
Volgens ’n skrywe van die munisipaliteit het dié kontrakteur op 26 April opdrag gekry om met die tydelike oplossing te begin. Pype hiervoor sou binne sewe dae vanaf die datum afgelewer word en dan sou dit nog “drie tot vyf dae tot inwerkstelling neem”, is geskryf.
Die pype is afgelewer, maar tydens die oorsigbesoek het een pyp skuins in die rivier gelê, een binne-in die rivier, en ’n kabel of twee langs die rivier. Geen kontrakteur was teen laatoggend op die perseel nie.
Die werk aan die “permanente en meer volhoubare oplossing” vir watervoorsiening staan skynbaar ook stil. Behalwe draagklampe wat aan die N18-Magrieta Prinsloo-laagwaterbrug geheg is, het niks oënskynlik sedert vroeg Mei hier gebeur nie. Die draagklampe is aan die brug geheg vir die nuwe hoofwatertoevoerpyp vanaf die wateraanleg na die dorp. Die ou glasveselpyp wat in die Februarie-vloed beskadig is, strek deur die rivier.
Gemeenskapsleiers is egter van mening dat die pyp aan die verkeerde kant van die brug opgesit word, en sê met ’n volgende vloed gaan klippe en boomstompe die pyp beskadig. Die boomstompe en takke wat sedert die vloed teen die laagwaterbrug vasdruk, aan die kant waar die nuwe pyp geheg moet word, staaf hul bekommernis.
‘Niks gebeur hier nie’
Met Sukers, die gemeenskapsleiers en media se aankoms by die wateraanleg, waaraan sedert 2020 glo nagenoeg R86 mijoen bestee is, is sy hardhandig deur ’n man – glo ’n veiligheidswag – rondgeruk. Sukers se man, Johnathin, ACDP-leier in die Noord-Kaap, is ook deur die persoon gedreig.
Hoewel Sukers haarself meer as een maal identifiseer het, en verduidelik het dat sy as LP onaangekondigde oorsigbesoeke mag aflê, is toegang steeds geweier. Nog persone, vermoedelik verbonde aan ’n kontrakteursmaatskappy, het hul opwagting gemaak.
Ná ’n dringende besoek aan die kantore van die Magareng-munisipaliteit en ’n gesprek met Thapelo Jacobs van die munisipaliteit, is toegang uiteindelik verleen. Die besoekgroep was skaars deur die hek toe hulle weer voorgekeer is omdat hulle nie veiligheidshelms dra nie.
Sukers het die persone op die perseel gevra om veiligheidshelms te verskaf “aangesien hulle die kontrakteurs is”, maar hulle kon dit nie verskaf nie. Toegang is daarna “op eie risiko” verleen.
Hier het Sukers besef dat behalwe die persone wat die toe hek bewaak, en ongeveer drie wat besig is om ’n watertenker te vul, geen bou-aktiwiteite op die perseel aangaan nie.
’n Kontrak is glo in 2020 toegestaan vir die bou van ’n nuwe wateraanleg op die perseel van die ou wateraanleg.
Die voltooiingsdatum hiervoor was 30 Junie 2021.
Dit is steeds nie voltooi nie, met onkruid wat deur songebleikte toerusting groei, die stille getuie dat dit nie binnekort voltooi sal wees nie.
“Geld is hier uitgegee, maar niks gebeur hier nie. Dit is waarom hulle ons toegang geweier het.
“Hier is ’n leierskapprobleem, en plaaslike regering is brood-en-botter-sake. Geen toegang tot water is ’n ernstige skending van menseregte.
“Die probleem is ons speel politiek met basiese menseregte.
“Hierdie is ’n wake-up call. As ons nie nou die sisteem regkry nie, gaan daar ’n inploffing in die land wees,” sê Sukers.
Intussen, volgens plasings op die Facebook-blad van die Magareng-munisipaliteit, is raadslede besig met “public consultative meetings throughout its six wards”.
Hierop skryf ’n inwoner van Ikhutseng in sy kommentaar: “I see the public consultations and I think right now all the focus, time and energy will be better served on the restoration of water. All the masses want right now is water in their taps. Everything else and all the consultations are not of any significance.”
Soos wat ’n gemeenskapsleier van Warrenvale sê: “Ons soek nie net water nie, ons soek beter.”





